Almal word vol
top of page

Almal word vol


Die Gees is nie vir enkelinge bedoel nie, maar vir almal. Die Gees verdeel nie, maar verenig. Hy onderskei nie tussen Christene nie. Nee, as Hy kom, kom Hy oor almal. Elkeen wat Jesus ken, is 24/7 binne sy visier. Ons almal is sy witbroodjies. Die Gees werk nie net in “groot” Christene nie. Sedert Pinksterdag is ons almal sy permanente woonplek en werkplek. Nou het die Gees gekom om te bly en om ons almal tot ‘n nuwe span saam te snoer.

Die Gees se Pinksterwind en vuur het op almal gekom, jonk en oud, mans en vroue, apostels en gewone volgelinge van Jesus. As bewys het hulle almal net daar in ander tale begin praat. Hoekom ander tale? Wel, om Jesus se belofte van Handelinge 1:8 simbolies waar te maak dat die hele wêreld nou die evangelie gaan hoor. Onthou jy nog hoe sonde daar in Genesis 11 gemaak het dat niemand mekaar meer kon verstaan na die toring van Babel debakel nie? Maar met die Gees se uitstorting het ‘n nuwe universele taal ontstaan – die vernuwende taal van die Gees!

Die tale waarin die eerste Christene gepraat het, was bestaande tale. Maar die inhoud was nuut. Skielik het almal die groot dade van God in hul moedertale gehoor. Aangrypend! Pinkster maak God relevant in ons elkeen se moedertaal. God praat nou Afrikaans, Engels, Sotho… sodat mense sy grootheid kan beleef en kan glo!

Gebed

Heer laat u kinders in al die tale van die wêreld oor U praat sodat baie tot geloof in Christus kan kom. Amen.

bottom of page