Hierdie Vuur brand skoon
top of page

Hierdie Vuur brand skoon


Vuur brand. Wie weet dit nie? Daarom speel mens nie met vuur nie. Dis lewensgevaarlik. Maar vuur maak soms ook skoon. Dit brand dooie dinge uit die pad. Op verrassende maniere is vuur soms die pad na nuwe lewe toe, soos op daardie oggend in Jerusalem toe hemelse vure skielik begin brand het. Toe die winde van verandering begin waai het, het die vure van vernuwing ook begin brand.

Die Gees se vuur het gekom om alle onsuiwerhede uit die pad te brand. Die Gees het alles kom nuutmaak. Sy vuurdoop was ‘n skoonmaak doop. Dit was ‘n nuutmaak doop vir hulle wat in gehoorsaamheid aan Jesus se belofte op krag uit die hoogte gewag het. Wind en vuur het die nuwe era va die Gees hier op aarde ingelei. Hy daal nou op doodgewone mense neer wat voor Jesus buig.

Vandag is die Gees se wind en vuur in ons midde. Stel maar net jou lewe oop. Kom sit aan die Here se voete en laat die Gees jou doop en vul met sy vuur. Laat Hy jou lewe skoonwaai van alle sonde. Laat Hy alle onreinheid uit jou wegbrand sodat jy ‘n bruikbare houer vir die Gees kan wees. Sorg dat Pinkster vandag en elke ander dag in jou lewe gebeur. Sorg dat die vure brand en die winde waai waar jy jousself bevind- die regte soort!

Gebed

Brand my lewe skoon, Heilige Gees. Brand Pinkster in my lewe in. Amen.

bottom of page