Wat Steel Jou Vreugde?
top of page

Wat steel jou vreugde?


“Weet jy wat steel nou rêrig my joy deesdae?”, hoor ek die een vrou vra vir haar vriendin so in die middel van hulle gesprek. Sy trek daai rêrig ‘n paar meter lank, hoor- om te wys dis vir haar ‘n ernstige saak. Ek sit in ‘n lekker trendy koffie shop in Linden, en spits toe dadelik my ore vir dié gesprek. Ek wil hoor wat steel haar “joy” so vinnig. Miskien is dit dieselfde dief wat myne ook kom steel wanneer ek ‘n paar minute te lank op Facebook gekrap het. “Die twee ekstra spoed hobbels wat hulle nou by Dian (seker haar kind) se skool se straat ingesit het. Ek moet nou nóg vroeër ry om by die werk te kom.”

Wag gou net ‘n bietjie, dink ek- het ek reg gehoor? Ek het amper oorgeleun en gevra of sy net haarself weer kan herhaal. Sy sit in ‘n trendy koffie-winkel in die middel van die dag, en die grootste ding wat haar vreugde steel is twee ekstra spoed hobbels? Kan twee onskuldige spoed hobbels nou sulke vreugde-diewe wees?

Ek wonder later oor die hoeveelheid kere per week waar ek ook toelaat dat klein goedjies my vreugde steel. Ander mense se meer en se beter, vriende se prestasies, vreemdelinge se kommentaar op sosiale media- alles onskuldige mense of dinge wat skaars bewus is ek maak van hulle vreugde-diewe. Hoekom is dit so maklik vir omstandighede van buite om so vinnig die vreugde wat binne ons is, om te gooi of te steel? Baie gelowiges word maklik van hul vreugde beroof wanneer hulle slegs na hul omstandighede kyk. Wanneer hul vreugde selfgemaak is en afhangend is van wat op sosiale media die rondtes maak.

Maar wanneer ek uit my Christus-identiteit leef behoort my omstandighede nie my vreugde te bepaal nie. Ek staan en weeg nie my vreugde op die skaal van hoe goed of sleg dit met my gaan, of hoe vinnig ek by die werk kan kom, of wat die politici gesê het, of nié gesê het nie. Nee. My vreugde en my vrede kom van die Here af. Dis Hy wat voor my en langs my loop. Met Hom by my is daar nie rede vir iets om “nou rêrig my joy te steel” nie. Want Hy is my joy. Hy is my vreugde. My genot van Hom neem toe ten spyte van my omstandighede.

Jesus- wie ons Voorloper is- het nie die kruis as ‘n vreugde-dief gesien nie- al was dit swaar en al was dit seer. Volgens Hebreërs 12:2 het Jesus juis die kruis verduur en nie vir die skande daarvan terug gedeins nie, omdat daar vir Hom ‘n vreugde in die vooruitsig was. Daar was iets wat vir Hom van groter vreugde was as die lyding van die kruis. Henri Nouwen sê in sy boek, The Return Of The Prodigal Son, “People who have come to know the joy of God do not deny the darkness, but they choose to live in it... Joy never denies the sadness, but transforms it to a fertile soil for more joy”. Met ander woorde, net omdat ek kies om in die Here my vreugde vind, beteken nie ek is blind vir die realiteite om my nie. Inteendeel, dis omdat ek bewus is van wat om my aangaan, van hoeveel duisternis en seer daar in die wêreld is, dat ek nie my vreugde elders as by die Here- die Bron van vreugde- soek en vind nie.

Hoe is dit dan dat Christene so vinnig ‘n stukkie Nehemia 8:10 kan aanhaal van “the joy of the Lord is my strength”, maar laat die beurtkrag nou net opstoot na fase 3 of 4 toe, dan word hulle vreugde nou in ‘n oogwink gesteel. Dan is dit klagtes en oorsee trek dreigemente- heeltemal beroof van hul vreugde deur iets wat buite hulle beheer is. Ons vergeet dan van die eerste deel in daardie einste vers wat vra dat jy ‘n lekker maaltyd en soet drankies moet geniet, en sommer van jou kos ook moet deel. Dis mos nou ‘n teken van die Here se blydskap wat ons krag is. Dis ‘n teken dat ons vreugde staande bly, want ons kyk nie na ons omstandighede nie. Ons kyk na die Bron van ons vreugde, naamlik Jesus Christus- die Begin en Voleinder van ons geloof. Wanneer ons Hom voor oë hou, sê die skrywer in Hebreërs, dan sal ons nie moeg raak en moedeloos raak en ons vreugde sommerso links en regs laat steel nie.

Vriende, hou dop wat jy toelaat om jou vreugde so op ‘n daaglikse basis te steel. Vat dit na die Here toe, en bid dat jou genot van die Bron van vreugde weer sal toeneem ten spyte van die donkerte om jou.


bottom of page