Hoeveel keer moet ek vir die Here askies sê voordat dit tel?
top of page

Hoeveel keer moet ek vir die Here askies sê voordat dit tel?


“Daar is nog onbelyde sondes in jou lewe.”

“Jy moet jou sondes by die naam bely, anders help dit nie.”

“Jy pleit nie die bloed van Jesus genoeg af oor jouself nie.”

Het jy al sulke uitsprake gehoor? Maak dit jou ook moedeloos? Ek meen - hoeveel keer is genoeg? Wanneer is sondes genoeg kere bely? Wanneer is dit reg bely? Is daar ’n resep hiervoor in die Bybel?

Feit: Om bewus te wees van jou oortredings is genade. Maar om bloot net sleg te voel hieroor is nog nie genoeg nie. Ek vermoed Judas Iskariot het ook dodelik sleg gevoel oor sy sondes, maar hy het dit net met mense probeer regstel, nie met God Self nie. Jy moet met jou sondes heel eerste na Hom toe hardloop; reguit na Hom toe. Jy moet al jou gemors vir die hoeveelste keer aan sy voete gaan neersit en net daar agterlaat. Jy moet 1 Johannes 1:8-2:2 glo wat leer dat Jesus ’n volkome Versoening is vir al ons sondes.

Feit: Om jou skuld te bely voor God gaan oor meer as die opnoem van bekende of bewuste sondes. Jy onthou in elk geval selektief. As jy soos ek is, dan kan jy ander mense se sondes in elk geval makliker onthou as jou eie. Ekself is dikwels blind vir my hart-sondes. Ek praat van dinge soos diepgewortelde arrogansie, hoogmoed en 'n knaende liefdeloosheid wat orals in my lewe wegkruip. Natuurlik mag jy verkeerde dinge per naam met God gaan uitpraat. Dit beteken egter nie Hy vergeef slegs sulke sondes nie. Dan dink jy nog veels te eng oor sonde én oor genade. Sonde is soveel meer as wat jy kan onthou… of opnoem. Sonde is om die verhouding met ons Hemelse Vader op bewustelike en onbewustelike maniere te versuur. Sonde is nie maar net die breek van formele godsdienstige gebooie nie; dit is die verbreking van die verhouding met die lewende God Self! Egte sondebelydenis is die besef dat jyself die verhouding-verbreker is op God se terrein, én dat jy dit onvoorwaardelik en berouvol in Jesus se Naam erken.

Feit: Om jou sondes te bely en om Christus se genade te aanvaar, is om te weet dit is agter jou. Jy weet daar’s nie genoeg stoorplek in die hemel vir belyde oortredings nie. Dit is uitgevee. Dit het ewige lig gekry, die kruis s’n.

Feit: Om jou stukkendheid voor God te bely, is nie ’n “get out of jail free” kaartjie om weer te gaan droogmaak nie. Nou gaan leef jy vry en dankbaar in die nabyheid van die Heer.


bottom of page