Wanneer God herders afdank…
top of page

Wanneer God herders afdank…


God was niks beïndruk met die godsdienstige leiers van Israel nie. In Esegiël 34 vertel Hy dat Hy kwaad is vir sy herders omdat hulle gedurig die beste deel van alles vir hulleself vat terwyl hulle die volk van God afskeep. Hulle steel en bedrieg. Hulle gee niks om vir die Here se kudde wat weggedwaal het en wat tussen gevaarlike roofdiere beland het nie. Daarom dat God besluit om hierdie herders te onthef en om self sy volk se herder te wees. Presies dit doen Jesus vandag nog. Hy vertel in Johannes 10 Hyself is die goeie herder wat sy eie lewe neerlê vir al God se skape. Hyself gee vir ons ewige lewe. Niks of niemand kan enige van sy skape uit sy magtige hand ruk nie. Ook vertel Jesus in Matteus 18 dat Hy nie toelaat dat een van sy skape ooit sal wegraak nie. Hyself vat sulke verdwaalde skape se spoor en soek hulle totdat Hy hulle opspoor. Dan tel Jesus hulle op sy eie skouers en dra hulle terug na God se skaapkraal toe. Praat van ’n wonderlike nuwe bedeling! Jesus self is nou ons voltydse herder en oppasser.


bottom of page