Leier Nuusbrief - Maart deel 1
top of page

Leier Nuusbrief - Maart deel 1


Jesus se radikale leierskap

Om mense te lei soos Jesus hulle gelei het is ingewikkeld, vereis wysheid en onderskeidingsvermoë. As ons na Jesus se leierskap kyk en ons vergelyk dit met ons Westerse model van kerkwees (groter, beter, meer, vinniger) sien ons radikale verskille.

Hier is vyf lesse at ons by Jesus kan leer;

1. Jesus het die kragtige bedienings van Satan verwerp – die sensasionele, die skouspelagtige en die vinnige

Jesus kies die pad van lyding en die kruis. Hy storm nie Israel met Messiaanse krag binne nie. Hy wys nie vir mense dat Hy die Here is nie. Hy klop saggies aan Israel se deur. Hy hou nie van ‘n godsdiens van altyd besig wees nie. Hy verkies om sy werk stil, onopsigtelik en afgemete te doen. Hy onttrek Hom dikwels en vermaan mense om stil te bly. Hy het nie probeer om welbekend te wees nie.

Here gee aan my die genade om die versoekings van vinnig en groot te vermy.

2. Jesus kies doelbewus ‘n pad van nederigheid

Hy kies om in ‘n stal gebore te word en leef in afgeleë Nasaret. Sy eerste wonderwerk was ‘n wonderwerk van nederigheid – Hy word mens. Die sentrum van sy bediening was in afgeleë Galilea en nie strategies in Jerusalem nie.

Here help my om vandag nederigheid te kies.

3. Jesus het net ‘n paar dissipels gehad en hulle was nie invloedryke mense nie

Jesus soek nie invloedryke mense, wêreldleiers en beroemde mense uit nie. Hy kies kant met diegene sonder mag en status – die wat nie hoog op in die gemeenskap was nie. Onindrukwekkende mense het Hom beïndruk. Hy red die randfigure in die gemeenskap en hanteer hulle met spesiale respek. Jesus rig klein mensies na grootheid op, en arm mense tot mense met ‘n ryk lewe.

Here, leer my om soos U na mense te kyk: Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike (1 Samuel 16:7).

4. Die Here word nie beïnvloed deur ander mense se oordeel en verwagtings nie

Jesus het geen formele rabbynse opleiding gehad nie en sy volgelinge is met agterdog bejeën. Sy onderrig het dikwels aanstoot gegee Sy lewenstyl het nie aan die vereistes voldoen nie – Hy het nie genoeg gevas nie, Hy het alles geëet, Hy spandeer tyd met die verkeerde mense.

Here gee my die moed om u te volg en nie op ‘n syspoor gedwing te word deur negatiewe menings van diegene om my nie.

5. Jesus wys vir ons dat ons definisie van sukses nie God se definisie is nie

Jesus was tevrede om as ‘n mislukking gesien te word. Hy het nie basiese strukturele probleme van Israel uitgesorteer nie. Die Fariseërs en Sadduseërs het steeds die tempel beheer en Herodes het steeds op sy troon gesit. Johannes die Doper sit steeds in die tronk. Dit lyk asof Jesus ‘n ambulans bediening gehad het – hy het die slagoffers van die bose stelsel opgetel. Hy het nooit werklik diegene met ekonomiese en politieke mag direk aangeval nie. Hy eindig sy lewe as verwerpte en gehate mens. Hy het besef sy Vader was volledig in beheer. Hy definieer sukses as voltooiing van die unieke werk wat God aan Hom gegee het.

Here help my om suksesvol te wees deur u wil te doen en U met die res te vertrou.

Die "DONES”

Hierdie is ‘n nuwe groep in die kerk in die VSA. Ons het reeds die “nones” gehad – diegene wat nie aan enige kerk behoort nie. Hierdie “dones” is mense wat die gemeente verlaat, maar nêrens anders aansluit nie. Hulle vertrek is nie die gevolg van ‘n enkele insident nie Dit is gewoonlik ‘n besluit wat oor ‘n lang tydperk oordink is. Hulle is klaar (done) met die kerk. Hulle is ‘n groep wat toeneem in getalle. Hulle het nie hulle geloof versaak nie. Hulle het ook nie by die groep sonder godsdienstige affiliasie (die nones) aangesluit nie. Josh Packard, ‘n sosioloog het navorsing oor hierdie groep gedoen. Hulle was dikwels baie toegewyd en aktief in hulle gemeentes. Die kerk is besig om van sy beste mense te verloor. Vir die kerk skep dit ernstige probleme. Juis dié mense op wie die kerk vertrou vir leierskap, finansiële ondersteuning en diens verlaat die kerk, en die jongmense vul nie die leë kerkbanke nie. Hoekom gebeur dit? Hierdie mense voel nadat hulle deur baie preke en Bybelstudies gesit het, het hulle alles gehoor. Hulle is moeg om toegespreek te word. Hulle sê hulle is moeg dat iemand hulle sê wat om te doen. Een persoon stel dit so: The Dones are fatigued with the Sunday routine of plop, pray and pay. Hulle wil deelneem. Sal hulle terugkeer? Onwaarskynlik. Packard sê gemeentes moet probeer keer dat hierdie mense weggaan eerder as om hulle te probeer terugkry. Leiers in die gemeente moet na hierdie mense luister voor hulle die gemeente verlaat. Die probleem is dat leiers in die gemeente eerder bereid is om na bekende predikers te luister as na gewone mense. Vra jou bestaande lidmate ‘n paar vrae:

  • Hoekom is jy deel van hierdie gemeente?

  • Wat hou jou hier?

  • Het jy dit al ooit oorweeg om die gemeente te verlaat? Hoekom?

  • Hoe sal jy jou verhouding met God op hierdie stadium beskryf?

  • Hoe het jou verhouding met God oor die laaste aantal jare verander?

  • Watter invloed, indien enige, het die gemeente op jou verhouding met God gehad?

  • Wat moet in die gemeente verander om vir jou te help groei na Jesus se oproep om God en jou naaste lief te hê.

Dit is tyd vir die kerk om te luister. Die kerk sit op ‘n tydbom: die eksodus van die “dones”, die toename van die “nones” en die verdwyning van die jongmense is gevaartekens vir ‘n gemeente wat nie bereid is om te luister nie. Dit is nooit te laat om te begin nie.

Kernwaardes van mense wat werklik ‘n verskil in die wêreld maak

In 1955 weier ‘n 42 jarige swart vrou om agter in die bus te sit. Selfs toe sy deur polisieoptrede gedreig word weier sy om te skuif. Sy was nie deel van ‘n beweging nie, want destyds was daar geen beweging nie. Haar naam was Rosa Parks. Sy was die oorsaak van ‘n beweging. Later in haar lewe skryf sy: “Without a vision the people perish but without courage dreams die.”

As ons maar meer soos Rosa Parks kan wees – mense met moed wat waag en volhard. As ons die wêreld vir God wil verander, moet ons die waardes van mense wat die wêreld verander najaag. Hier is drie van hierdie waardes.

1, Moed

Vrees is die sonde wat sosiaal aanvaarbaar in die kerk is. Dit is waarskynlik ook die vernietigendste ding in ons lewens. Moed beteken nie die afwesigheid van vrees nie, maar om vrees in die oë te kyk as dit ons prober intimideer.

2. Waagmoed

Ons moet net eenvoudig deur die deur van God se roeping vir ons lewens stap. Snaaks, dit is nie noodwendig die dinge wat in ons lewens gebeur wat ons bang maak nie, maar stories oor wat mag gebeur wat vrees veroorsaak. Ons moenie gedagtes dink wat ons tot vrees reduseer nie. As ons waagmoedig wil wees moet ons gedagtes van hoop oor ons toekoms dink. Ons moenie skaam wees vir mislukking nie.

3. Volharding

Volharding se ontstaan is hoop. Dit is hierdie hoop wat ons verhoed om tou op te gooi. Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees (Romeine 15:4). Jy is ‘n wenner as jy vorentoe stap al voel jy nie lus daarvoor nie. Dit is die sleutel om die wêreld te verander.

Ons moet bid dat God ons die krag gee om die wêreld te beweeg en te skud. Laat ons wakker word vir ons drome. Laat ons na hindernisse met ‘n nuwe gees van volharding kyk.

Hoe kan ek uitbranding voorkom?

Hoekom verlaat leraars die bediening? Volgens ‘n studie deur Lifeway Research is die derde algemeenste rede uitbranding (19%).

J. D Greear se dat afgodediens ‘n groot probleem is. Hoekom? Afgodery sit altyd iets daar buite wat jy moet bereik. Daar is altyd iets – sukses – wat jy moet probeer oortref. Die gemeente moet soveel lidmate hê. Ek moet na hierdie geleenthede uitgenooi word. Almal hoef my nie as suksesvol te beskryf vir my om rus te kry nie. ‘Until you find your identity in Christ, you’re going to work even when you’re resting.’ (Tim Keller) Hoe werk dit? Terwyl jy rus, is jou gedagtes besig om te dink aan al die dinge wat jy moet doen om suksesvol te wees. Dit is nie nodig vir jou om iets teenoor ander te bewys nie.

‘n Psalm wat ons baie sal help, is Psalm 127: As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou tevergeefs.

As jy voor mense in die openbaar optree stel jou liggaam in 30 minute soveel adrenalien en hormone vry om die stress te hanteer as die gemiddelde persoon in agt uur vrystel (Archibald Hart). Wat kan jy dan doen om uitbranding te vermy?

1. Slaap meer

Slaap is nie net goed vir die liggaam nie, maar ook vir die denke. ‘n Hormoon word vrygestel wanneer jy slaap wat die afvalstowwe wat jou brein vervaardig wanneer jy aktief is, verwyder. As jy nie genoeg slaap nie, kan jou liggaam nie al die afvalstowwe verwyder nie Daarom is jy meer kreatief en produktief in die oggend.

2. Doen gereeld iets wat jy nie gewoonlik doen nie

Churchill het geskilder. Op die moeilikste dae tydens die Tweede Wêreldoorlog het hy na sy huis se kelder gegaan en vir twee uur lank geskilder. Greear sê die beste manier om verfris te word, is deur nie televisie te kyk nie.

3. Verbind met mense wat vir jou energie gee

Jy moet tyd spandeer met mense wat jy geniet – verkieslik een aand per week.

4. Word geestelik vernuwe

Hou gereeld stiltetyd. Skeduleer byvoorbeeld tyd vir gebed voor elke belangrike afspraak. Sluit aan by ‘n kleingroep. Jy moet mense hê wat vir jou bid, maar ook mense wat jou aanspreeklik hou.


bottom of page