Episode 7 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]
top of page

Episode 7 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]


Oordenking Soos op die videogedeelte gesien, het Paulus in die mooiste en mees beeldryke taal beskryf dat die Gees nou ons lewens nuut maak en vorm en dat ons nou deel in die heerlike erfenis, wat vir Jesus bedoel is. Daar is egter elke dag ‘n uitdaging op die vlak van die praktiese uitlewing, naamlik dat ons steeds lyding en swaarkry beleef te midde van hierdie goeie nuus. In so ‘n wêreld vóél ‘n mens dus nie altyd soos ‘n kind van God, wat alles erf nie. Wanneer ‘n mens se verwagting dus is dat alles nou in die daaglikse lewe reg gaan uitwerk, omdat ons nou God se kinders is, kan dit lei tot erge ontnugtering en teleurstelling. Onthou dat die Romeinse Christene self al baie lyding beleef het. Ons het alreeds gesien dat keiser Claudius voorheen (49 n.C.) alle Jode verban het uit Rome, waarvan baie Christene was. Ons weet ook dat Romeine geskryf is tydens die regering van keiser Nero (54 - 68 n.C.) en dat hy in die laaste jare van sy regering die Christelike kerk in Rome ernstig vervolg het. Oefening Hoe hanteer Paulus hierdie probleem? Lees Romeine 8:18 - 30 ‘n paar keer deur en skryf neer hoe Paulus hierdie moontlike ontnugtering van lyding probeer teenwerk in die lewe van gelowiges. Oordenking In vers 18 verduidelik Paulus aan alle gelowiges dat ons onsself tans in ‘n oorgangstyd bevind, wat geestelike dinge betref: Jesus het gekom, dus het ons reeds God se nuwe lewe, vergifnis en vryspraak ontvang. God se heerlike erfenis wag vir ons en ons het reeds nuwe identiteit ontvang as die kinders en familie van God. Hierdie gedagte dat ons reeds God se vryspraak ontvang het, staan egter in stryd met die idee dat ons steeds tans ly. God se nuwe lewe, wat reeds in ons is, is nog nie voltooi in hierdie wêreld nie. Daar is dus ‘n reeds en ‘n nog nie, wat in stryd staan met mekaar in hierdie tyd van die geskiedenis, voordat Jesus terugkom. Sy terugkeer gaan egter die stryd oorwin en verwyder sodat God se nuutmakende lewe in ons en in die wêreld voltooi kan word. Dan gaan God ‘n finale einde aan die lyding hartseer en pyn maak. Totdat dit egter gebeur, sug ons saam met die skepping (verse 19 - 25). Die skepping sien saam met ons uit na die dag, wanneer God alles finaal gaan nuut maak. Ons sug dus egter met hoop en met blydskap, omdat ons weet dat die Vader, Seun en Gees reeds sy werk in ons begin het! En ons ly wel met ‘n blye hoop op die toekoms. As kinders van God hét ons ‘n toekoms saam met God; daarom sug ons nie uit moedeloosheid nie, maar ons sug met die pyne van verwagting. God is reeds hier en nou met ons, maar Hy wag ook vir ons vanuit ‘n heel toekoms. God gee ons verder die versekering van hierdie toekomstige nuwe lewe deur ons in ons swakheid by te staan en vir ons by die Vader te pleit. Hy gebruik alles in ons lewens, selfs die pyn en swaarkry om ons deur sy Gees te vorm, sodat ons al meer soos Jesus word. Niks kan dit keer nie, selfs nie die ergste vorme van lyding nie. Ons is gekies vir ‘n Goddelike doel en God self realiseer daardie potensiaal in ons te midde van die hardheid van die lewe. Oefening Lees verse 31 - 39 deeglik deur. Hier keer Paulus terug na die nuwe lewe en vars identiteit wat ons in Jesus ontvang het. Hy praat dus van die voorregte wat ons geniet, terwyl ons Jesus dien. Regdeur die Ou en Nuwe Testament het God se mense altyd twee dinge gehad: voorregte en verantwoordelikhede. Hier praat Paulus oor eersgenoemde (hy praat wel later van die verantwoordelikhede vanaf Romeine 12 - 16). Maak ‘n lys van al die voorregte in verse 31 - 39 wat ons as kinders van God geniet. Dink daarna wat dit vir jou beteken.

GEBED: Vader van ons Here Jesus, dankie vir die nuwe lewe wat U ons skenk deur U Gees. Dankie dat U vir ons ‘n kraakvars lewe en identiteit skenk en dat die mees traumatiese lyding dit nie van ons kan wegneem nie. Dankie dat U van ons oorwinnaars maak deur U liefde en dankie dat niks ons kan skei van U oneindige liefde nie!


bottom of page