Ander se skoene
top of page

Ander se skoene


Meeste mense aanvaar dat dit goed en volwasse is om jouself in iemand anders se skoene te kan plaas. Jakobus sê tog (1:19): My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. My vraag is dan waarom mens hierdie stukkie Jesus-wysheid so min waarneem in gesprekke vandag. Die era waarin ons vandag leef is seker die tydperk in die geskiedenis waar die meeste mense ooit met mekaar in gesprek is, veral danksy die media en sosiale media. Wat my egter stom slaan is hoe sogenaamde Christene met (of oor) mekaar gesprek voer, mense wat almal skynbaar die dieselfde Here dien. Hetsy die gesprek handel oor die politiek, die gay debat in die NG Kerk, die ekonomie of geestelike dinge in die algemeen, word min Bybelse karakter openbaar in hoe ons mekaar hanteer. Ons presteer blykbaar geensins beter in gesonde gesprekvoering as die res van die wêreld nie. Die emosies oor baie van die temas loop dikwels so hoog dat niemand mekaar meer hóór nie. Mense is venynig en aggressief en praat soveel keer geheel en verby mekaar. Ek dink veral aan Paulus wat vir die Galasiërs sê hulle byt en verskeur mekaar. Wanneer mense na sulke gesprekke luister hoor mens baie dinge. Mens goeie argumente en minder goeie argumente. Mens hoor argumente wat poog om staat te maak op feitlikhede of logika en ander weer is meer emosioneel. Mens hoor baie gesprekke wat intens is en enkele ander wat weer rustiger verloop. Mens hoor gelowiges wat ander gemeentes en medegelowiges aanvat sonder dat die ander betrokke party eers teenwoordig is. Wanneer ek dan vra of die beswaardes al ‘n gesprek met die aangeklaagdes gevoer het dan word ek aangekyk of ek van ‘n ander planeet af is. Daar is egter woorde wat ek byna nóóit hoor in ‘n gesprek nie. Dit is die woorde: ek verstaan. Om vir ‘n medegespreksgenoot te sê ek verstaan, beteken nie ek stem saam nie. Dit beteken net: ek plaas myself in jou skoene. Al huldig ek ‘n ander standpunt probeer ek begryp, régtig begryp waar jy vandaan kom. Jy is vir my so belangrik dat ek nie net ‘n paar minute gaan luister en dan ‘n kits opinie vorm oor wat ek dínk jy glo nie. Ek wil werklik probeer dink vanuit jou raamwerk sodat ek begrip kan ontwikkel. ‘n Vriend het my een keer ernstig aangespreek deur te sê dat ek nie die reg het om iemand anders te kritiseer indien ek nie ‘n agt-uur seminaar kan aanbied oor sy/haar standpunt nie! Wow! Ek weet nie eers of ek soms twee minute intelligent kan praat oor iemand anders se standpunt nie en tog is ek gewoonlik daarteen! Ek weet ook nie of my vriend hy reg was oor die agt ure nie maar die pennie wat vir my ge-drop het is dat ek baaaaaaie meer moet luister voordat ek reageer. Ek móét eenvoudig want ek het een ding oor myself agtergekom en dis dat ek gladnie so oulik of slim is dat ek sommer gou-gou iemand anders volledig genoeg kan verstaan nie, al dink ek ek kan. ‘n Baie bekende Amerikaanse TV-persoonlikheid, genaamd Mr Rogers, wat bekend was daarvoor dat hy sy medemens en selfs opponente en vyande met die opperste respek hanteer het, het gereeld gesê: You cannot stay angry at someone who’s story you’ve listened to.


bottom of page