Daar’s nie ‘n ‘Reg van Toegang Voorbehou’ bordjie by die kerk nie
top of page

Daar’s nie ‘n ‘Reg van Toegang Voorbehou’ bordjie by die kerk nie


“Ek gaan nie kerk toe nie, want daar is te veel skynheilige mense,” sê iemand vir ’n leraarvriend.

“Jy is reg, maar hulle is ook welkom by eredienste,” antwoord hy. “Daar’s nie ’n bordjie by ons kerk wat sê: ‘slegs volmaakte mense welkom nie. Ook het ons nie ’n ‘reg van toegang voorbehou’ bordjie daar aangebring nie. Sondaars en vromes, heiliges en skynheiliges is almal ewe welkom… jy ook!” sê die leraar.

Toe voeg hy by: “Wanneer ons die Here se nabyheid in die kerk aktief opsoek, skyn sy genade helder op ons. Dan staan ons eie skynheiligheid juis ’n goeie kans om uit die pad geskyn te word.”

Maak geen fout nie, skynheiligheid is goor. Dit staan die Here niks aan nie. Maar nou ja, diegene wat nog nooit in hulle lewe skynheilig was nie, moet dan maar lostrek met die eerste klippe. Egtheid is presies wat God van ons almal vra. Maar Hy vra ook ’n nie-veroordelende hart. Solank as wat ons ander mense se sondes raaksien en hulle foute gebruik om onsself te verontskuldig, is ons ewe skuldig. My pa het my geleer ons gaan nie kerk te om ander mense uit te kyk nie, maar sodat God ons kan deurkyk. Tot vandag is dit ’n vaste geestelike beginsel in my eie lewe waarvoor ek hom dankbaar is. Ek probeer nooit om mense op en af te kyk nie. Of uit te kyk nie. Dit laat ek aan God oor. Ek weet slegs God kan inkyk in hulle harte. Hy weet wie is skynheilig, en wie nie. Kom ons kies opnuut vir opregtheid.


bottom of page