Nie statiese geboue nie
top of page

Nie statiese geboue nie


Die Gees bly gelukkig nie in statiese geboue nie. Kerkgeboue is maar net doodgewone strukture van sement en steen. God bly nie in sulke geboue agter as sy lewende huise dit verlaat nie. Allermins. Hy is saam onderweg met sy lewende kerk, elke dag! Hierdie voorreg om ’n lewende tempel van God te mag wees, is eksklusief aan die Heilige Gees se nuwe werk in ons lewe te danke. Jesus en die Gees se koms het geboue as heilige ruimtes oorbodig verklaar. Nou is kerkgeboue hoogstens bymekaarkomplekke op sekere tye om verder toegerus te word. Dis al.

Geesvervulde gelowiges is nie slaafs uitverkoop aan formele strukture of kerkgeboue nie. Kerkgeboue is vir hulle nie werklikheidsvreemde “huise van die Here” met Sondag as die enigste formele kerkdag nie. Vir Christene wat voluit op Jesus se pad stap, is die ganse wêreld God se huis en elke dag ‘n spesiale kerkwees-dag. Daar waar hulle elke dag is, daar is God se huis sigbaar teenwoordig. Christene durf daarom nie slagoffers van ‘n “ons versus hulle” skeiding wees nie. Nee, ons moet vry wees om die Gees in gees en waarheid te aanbid en te leef op elke plek waar ons onsself elke dag bevind. Terloops, is jy elke dag van harte deel van hierdie nuwe Gees-gedrewe beweging? Of sit jou nog al jou hoop op eerskomende Sondag se gebou-byeenkoms?

Gebed

Dankie Heer dat U kerk vry en aan die beweeg is. Amen


bottom of page