Alweer BEURTKRAG!
top of page

Alweer BEURTKRAG!


Besighede verloor besigheid. Industrieë word lam gelê. Yskaste en ander elektroniese toerusting pak op en geen elektriese apparate werk nie. Selfs voedselproduksie kwyn en kospryse styg.

Suid-Afrika is letterlik in donkerte gehul en het einde is nog niet in sig. Beurtkrag maak ons magteloos en gewone mense kan doodeenvoudig nie die ellendige omstandighede verander nie.

Al wat ons wel kan doen, is om op iets anders, iets positiefs en meer permanent te fokus. Dit is nie maklik nie, maar definitief moontlik.

Lees weer ʼn slag die aangrypende belofte in Jesaja 60:2 (en slaan die woorde in Jeremia 13:15 en 16 vir eers oor):

Daar is donkerte oor die aarde,

duisternis oor die nasies,

maar oor jou gee die Here lig,

oor jou verskyn sy magtige teenwoordigheid.

En dan die warm, veilige woorde in vers 19 en verder:

Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie,

snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie:

die Here sal vir jou ʼn ewige lig wees,

en jy sal roem in jou God.

Jou son en jou maan is die Here,

Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie.

Die Here sal vir jou ʼn ewige lig wees,

jou dae van smart is verby.

Al is die wêreld ook hoé donker, die Here God laat skyn sy ewigdurende, glans-helder lig om en oor my. Al wat ek moet doen, is om sy lig oor my aan te skakel. En dit bring my nou terug na Jeremia 13:15 en 16:

Eer die Here julle God voordat dit donker word,

voordat julle julle in die skemer vasloop teen die berge.

Julle sal wag op lig, maar Hy sal duisternis bring,

Hy sal dit stikdonker laat word.

Om die wonderlike lig van God oor my te bring, moet ek Hom eer, in alles wat ek doen en sê en dink en bestudeer en ondersteun en skryf en bekyk. Ek moet Hom selfs eer in die manier hoe ek oor (Eskom) krisisse en probleme dink en daarop reageer.

Ek kan niks aan die gemors by Eskom of beurtkrag doen nie – ek is maar ʼn skrywer, kunstenaar en permanente student – en Eskom se lig is in elk geval tydelik.

Wat ek wel kan doen, is om ʼn daadwerklike besluit te neem om elke slag as die beurtkrag-monster toeslaan op lig te fokus, op die ewigdurende helder Lig wat nooit uitdoof nie.

Ek daag jou uit om elke slag as die ligte afgaan saam met my aan die hoofletter-Lig te dink en sodoende die stikdonker wêreld om ons te verLig.


bottom of page