Die Here is by jou
top of page

Die Here is by jou


Ek het al so baie beleef dat mense in ‘n tyd wat hulle swaarkry, baie vrae het of vra. Hoe meer antwoorde hulle kry, hoe meer vrae ontstaan daar. In Rigters 6 lees ons dat die Midianiete die Israeliete verdruk. Hulle bly in grotte, kruip weg, is bang en hulle diere word vermoor en uitgewis. Gideon is besig om in ‘n parskuip weg te kruip. ‘n Engel verskyn aan hom en sê vir hom: Die Here is by jou dapper man! En dan kom Gideon se antwoord. Maar as die Here by ons is hoekom gebeur al hierdie dinge met ons?

Die Here skuld ons nie antwoorde wanneer die lewe gebeur nie. Hy belowe ons in Sy woord, dat hy met ons is, dag en nag. Hy sal ons nooit alleen laat nie. Dit mag dalk vir jou voel asof die hele wêreld teen jou is, maar dit is eintlik anders om. Die Here staan saam met jou teen die hele wêreld. Jy vra die verkeerde vraag. In Psalm 23:4 lees ons ook van die Here se teenwoordigheid in ons lewens. Hy is by ons in die diepste donker. In Sy hande is ons veilig.

Die prys wat Christus vir ons betaal het aan die kruis, was veels te duur. Ons is kosbaar vir Hom. Hy sal ons nooit alleen laat nie. Die Here is te lief vir ons om ons eenkant toe te skuif.

Jy moet onthou God woon in jou, Hy is met jou, by jou en in jou! Jy kan nie meer alleen wees nie. Hoe weet jy dat dit moontlik is? Dit het God se Seun, Sy lewe gekos om elke oomblik by jou te kan wees. Glo en vertrou dat die Here by jou is in jou seer en jou bitter swaar.


bottom of page