Nuusmakers versus meningsvormers - kies jou kant!
top of page

Nuusmakers versus meningsvormers - kies jou kant!


Jare gelede het die redakteur van een koerant vir my gesê hy dink nie juis aan die kerk as meningsvormers nie. Hulle is egter nuuswaardig wanneer hulle so in die publiek onder mekaar stry en baklei. Sy woorde bly my steeds by, veral sy onderskeid tussen nuusmakers en meningsvormers. Dit is een ding om op mense se lippe te wees, maar dit is iets anders om hulle denke en harte te skuif. Juis toe ek na die afloop van SONA 2020 debat hoor hoe almal praat oor Julius Malema en F.W. de Klerk, toe wonder ek wie maak nuus en wie vorm menings? Soms is die grense hiertussen nie so duidelik nie, maar feit is, nie almal wat geraas maak vorm noodwendig mense se karakter en denke nie.

Meningsvormers is daardie klein groepie indiwidue wat ander se gedrag en waardes help vorm. Hulle is mentors, rolmodelle en lewende voorbeelde. Meningsvormers op die Here se terrein is diegene wat die roete van Christus magneties agterna leef. Paulus was presies so iemand. Daarom is dit net hyself in die Bybel wat gereeld kon sê dat mense sy voorbeeld moet navolg, soos wat hyself vir Christus navolg (1 Kor. 11:1). In Filippense 3:17 roep Paulus boonop vir gelowiges op om nie net sy navolgers te wees nie, maar om ook die voorbeeld na te volg van diegene wat leef soos hyself. Ons kort presies sulke sterk, koersvaste meningsvormers in ons eie lewe. Dit is diegene wat met alles in hulle glo Jesus is die Here (Fil 1:21). Hulle skaam hulle nooit vir die evangelie nie (Rom 1:16). Hulle ganse lewe gebeur tot eer van die Heer (1 Kor 10:31; Kol 3:17). Hulle leef altyd vrygewig omdat hulle glo dit is beter om te gee as om ontvang (Hand 20:35).

Wie vorm jou menings? Sulke mense hoef nie noodwendig publieke figure te wees nie. Of selfs fisies naby te wees nie. Dit kan ook skrywers wees. Dikwels is die ware meningsvormers juis agter die skerms doenig. Soek hulle uit. Kuier saam met hulle. Lees hulle boeke. Leer by hulle. Volg hulle voorbeeld na soos wat hulle vir Christus navolg.


bottom of page