Een toegangspad
top of page

Een toegangspad


‘n Toeganspad is lewensbelangrik. Sonder ‘n ingang na jou huis of kantoor toe, gaan jy nooit daar uitkom nie. Wel, dieselfde geld vir die pad na God toe. Die toegangsroete na Hom se naam is Christus en die Gees. Paulus beskryf dit aangrypend in Efesiërs 2:14-18. Hy sê dat Jesus daardie middelmuur wat in die tempel in Jerusalem alle Jode van nie-Jode afgegrens het uit die pad geloop het. Nou is die toegangsroete na God nie meer mens se afkoms nie, maar ons saambindende geloof in Jesus as die Here.

Jesus se koms versoen mense. Hy bind mense op nuwe maniere aan mekaar vas. Hy oorbrug alles wat ons van mekaar skei deur die Christendom as ‘n nuwe geslag, ‘n nuwe volk, hier op aarde op te rig. Nee, jy is nie meer ‘n Afriker-Christen, of ‘n Zoeloe-Christen nie. Jesus hef hierdie kulturele afgrensings tussen Christene op. Nou tel Christenskap net mooi alles. Nou bind juis ons geloof ons saam. Nou is Jesus ons elkeen se toegangroete na die Vader toe. Nou laat die Gees nuwe koninklike bloed in ons are vloei wat ons aan die Vader en aan mekaar verbind.

Terloops, bou jy genoeg toegangspaaie na ander Christene toe? Of is dit steeds net mense van jou eie taal of kultuur in jou omgewing wat toeganklik vir jou is?

Gebed

Heer Jesus, bou deur u Gees vandag baie nuwe toegangsroetes na mense toe. Amen.


bottom of page