Gewers, nie nemers nie
top of page

Gewers, nie nemers nie


Ek wonder of ons aldag besef hoedat die selfsug en materialisme van ons selfie-samelewing ons leefstyl elke dag beïnvloed? Mense met soveel ekonomiese vryheid as ons raak so maklik opgeneem in die verbruikersmentaliteit van almal rondom ons. Trouens, selfs Hollywood prente daag ons deesdae uit om te waak teen ‘n gesindheid van blote koop en verbruik.

In die fliek, The Matrix, wat in 1999 verskyn het is daar ‘n interessante perspektief wat gelewer word deur een van die karakters, Agent Smith. Agent Smith is ‘n gesofistikeerde rekenaar program wat as ‘n mens manifesteer en in sy poging om aan een van die ander karakters te beskryf hoe hy die mens as spesie probeer verstaan en klassifiseer, sê hy die volgende:

Every mammal on this planet instinctively develops a natural equilibrium with their surrounding environment, but you humans do not. You move to an area and you multiply and multiply until every natural resource is consumed and the only way you can survive is to spread to another area... There is another organism on this planet that follows the same pattern. Do you know what it is?

A virus!

Human beings are a disease, a cancer of this planet. You're a plague and we (machines) are the cure.

Smith se taalgebruik is dalk effens dramaties maar die inhoud van sy woorde is tog iets waaraan ons moet dink. Hy wys daarop dat alle ander diere in ‘n natuurlike balans leef met die omliggende omgewing en die natuur. Daar is ‘n gebalanseerde ewewig van gee en neem in die natuur. Diere neem nie meer uit die natuur as wat hulle teruggee nie. Hulle bou nie vir hulleself magsinstansies wat begeer na meer en meer nie. Dieselfde kan egter nie van die mens gesê word nie.

Die mens is na God se beeld gemaak en is die opdrag gegee om na die wêreld om te sien. Ons is ook geskep om kreatief te wees en skeppend toe te sien na vooruitgang. Vooruitgang is ‘n goeie ding. Maar daar is een ding wat ons ook in ag moet neem. Ons het in sonde geval. God se beeld in ons is gebreek daarom is die versoeking by ons altyd groot om soos virusse te bly optree.

God is egter ‘n Gewer: hy skenk aan ons ‘n lewe op Aarde. Hy voorsien ons van alles wat ons nodig het. Die sonde in ons het egter van ons nemers gemaak. Ons het verbruikers geword in plaas van gewers. Ons neem deesdae veel meer uit die lewe as wat ons terugsit. Ons relatiewe rykdom stel ons daartoe in staat. Alles draai om ons. Ons leef net vir onsself en gaar op en gaar op terwyl ander niks het nie. Ons koop en koop net nog goed, terwyl mense in ander dele van die wêreld eenvoudig met minder oor die weg moet kom.

Gelukkig kom red Jesus ons van ‘n virus-bestaan. Gelukkig gee God vir ons ‘n Christusverdiende identiteit en Hy maak ons lewens totaal nuut sodat ons ook gewers kan word soos Hy! Daar is dus een opsig waarin ons as mense wel nemers moet wees, oftewel ontvangers: Ons is elke dag dankbare ontvangers van God se genade! Ons ontvang lewe, asem, redding, alles! Ons ontvang egter sodat ons kan teruggee. God sê vir Abram Ek sal jou seën... en jy moet tot ‘n seën wees. Gelykmatige gee en ontvang, dis God se skeppingsdoel.

Ongelukkig vang baie gelowiges egter nie hierdie nuwe gewersplot van Jesus nie en hulle hou aan verorber en verbruik en koop en vat asof hulle virusse is! Ons vergeet so maklik wie ons in Jesus is. Jesus het gekom as Gewer, nie ‘n nemer nie. Hy gee vir ons soveel meer as wat Hy neem. Alles wat Goed is kom van Hom af. Somtyds begeer ek egter steeds meer as wat God gee, en val ek onder die versoeking om terug te keer na my vorige virus-bestaan...

Totdat ek Jesus opnuut vir my sien wink en as’t ware hoor sê:

Toemaar, Roedolf, jy’s vergewe. Volg My opnuut. Ek sal nie opgee op jou nie. Ek red jou van jou virus-lewe en sal van jou ‘n gewer maak.

Dankie, Here!


bottom of page