Wees ’n goeie-nuus-maker
top of page

Wees ’n goeie-nuus-maker


Die groot stories van die dag haal altyd die koerante se voorblaaie. Dit lei die nuus op die TV in. Hoofnuus is die belangrikste nuus van die dag. Almal moet hiervan weet. Dit word in “nuusflitse” op sosiale media saamgevat, of, soos wat dit in Engels genoem word: “breaking news.” By God wen ander nuusflitse egter as hier tussen ons. God se hoofnuus is elke slag goeie nuus. Die grootste nuus in sy hemelse woning is wanneer ‘n verlore kind tuiskom. Niks maak God se hart blyer as wanneer sy verlore handewerke weer tuis is waar hulle hoort nie. Sy vreugde ken dan geen perke nie. In Lukas 15 vertel Jesus dat daar elke keer ‘n hemelse vreugdefees uitbreek as selfs een verlore muntstuk, of een verlore skaap teruggevind word. Dit is die beste hoofnuus ooit by God as drenkelinge gered word uit die storm. Ewe goeie hemelse nuus is wanneer armes kos kry. Of wanneer mense in nood se laste van hulle skouers afgetel word. Of wanneer gelowiges mekaar opbou in hulle geloof. Dan wen die Here se koninkryk veld, die regte soort!

Luister gereeld na die regte hoofnuus, die Here S’n. Nog meer, wees vandag ook deel van daardie klein groepie nuusmakers wat sulke verhale op God se terrein laat wen. Leef die evangelie uit te midde van goor nuus en hooplose aardse hoofnuus. Praat die evangelie. Deel dit, doen dit. Gee brood vir die wat dit brood-nodig het. Bewys liefde aan ander. Dra mekaar se laste. Bid vir diegene in nood. Gee om. Gee jouself. Laat die koninkryk van God gebeur.


bottom of page