Mure val
top of page

Mure val


Vroeër, toe ons nie Christene was nie, was ons daar buite in die koue. So vertel Paulus in Efesiërs 2:11-18. Maar toe gebeur daar ‘n wonderwerk. Toe kom haal Jesus ons daar uit die donker van ons eie verlorenheid. En toe doop Hy ons in sy nuwe liggaam in deur die Heilige Gees. Van daardie dag af het ons ‘n toekoms. Jesus se kruisdood het dit alles moontlik gemaak.

Jesus Self het ons deel gemaak van sy een nuwe liggaam. Nee, die kerk van die Here bestaan nie uit baie volke en nasies nie. Daar is nou net een nuwe volk van God wat toevallig uit baie volke en mense bestaan regoor die wêreld. Die mure tussen kulture het geval. Ons is nou ‘n nuwe Godsvolk. Christus se dood het die muur van skeiding tussen Jode en nie-Jode afgebreek vertel Paulus in vers 14. Ons getuienis in hierdie donker wêreld vol haat is dat Jesus alle mure tussen mense afbreek en nie nog hoër bou nie.

Wat doen jy om die Gees se eenheid tussen Christene sigbaar te maak? Gaan jy uit jou pad om met Christene in ander kerke en in ander kulture kontak te maak en hulle voete te was? Hoe dien jy daardie gelowiges in jou omgewing wat arm is en swaarkry? Is jy Jesus se hande en voete tussen hulle? Nie? Hoe kan jy dan so maklik sê dat jy Geesvervuld leef?

Gebed

Here, laat die mure val wat og in ons land tussen u kinders bestaan. Net U kan ons help dat dit gebeur! Amen


bottom of page