Een in Hom
top of page

Een in Hom


Eenheid oorroep verskeidenheid in die kerk. Daarom dat die kerk nooit ‘n kliek van enersdenkendes mag wees nie. Die kerk is nie net ‘n versameling van mense wat dieselfde lyk, praat, glo of dink nie. Inteendeel. Die kerk is ‘n reënboog van kleur, geur, ouderdom, status, kulture en wat nog alles. Al hierdie dinge tel egter minder as ons saambindende geloof in die Here. Die Gees oorroep elke stukkie menslike agtergrond ter wille van sy nuwe liggaam. In die kerk tel dinge wat mense hier op aarde gedurig verdeel, soos velkleur of status, net mooi niks. Nee, dit verdwyn nie meteens in die kerk nie. Maar dit tel nie. Dit verdeel nie langer mense nie, soos wat daarbuite gebeur. Ten spyte van menslike verskille trek die Gees ons saam in ‘n nuwe liefdevolle eenheid.

Eenheid in die kerk is nooit mensgemaak, kunsmatig en geforseerd nie. Dis Gees-gemaak, want dit kom uit sy hart. Maar jy en ek as gedooptes in Hom, moet onsself dag en nag beywer vir ‘n groter sigbare eenheid van sy aardse liggaam. Te veel wit en swart mense in ons land leef in vyandskap. Te veel kerklike denominasies draai mekaar die rug toe. Kom ons lees weer Efesiërs 4 en stel ons ondergeskik aan die Heilige Gees se eenheid-skeppende krag. Ons kan nie die wêreld vir Christus met ons getuienis wen as ons eie huis nie in orde is nie.

Gebed

Ek smeek U o Gees wat eenheid gee- maak ons sigbaar een. Hef alle menslike skeidsmure in u kerk op. Amen


bottom of page