top of page

Die metaal van ‘n leier


Die Bybel leer ons dat leierskap ‘n gawe is. Maar wat maak ‘n leier ‘n leier? Mense is soms baie vining om dadelik te antwoord dat dit karakter moet wees. Leiers moet karakter hê! Maar is dit werklik waar? Ons weet darem almal dat leierskap nie kan werk sónder karakter nie. Natuurlik moet ‘n leier ‘n toonbeeld van Bybelse etiese denke en gedrag wees. Te veel van ons het al deurgeloop onder leiers met weinig karakter. Maar karakter is dalk te vanselfsprekend. Is karakter nie ‘n eienskap wat álmal van ons in elk geval moet openbaar nie? Is dit nie so dat álle Jesus-volgelinge moreel moet wees en eties moet optree nie? Dis tog nie iets wat slegs leiers moet hê nie.

Terwyl die noodsaaklikheid van karakter altyd veronderstel word wanneer dit by leierskap kom, lê die uniekheid van ‘n leier eerder in hoe hy/sy vaar, veral in verband met sekere vaardighede. Neurowetenskaplike Gregory Burns het gaan kyk hoe lyk die breinpatrone en gedrag van suksesvolle leiers, mense in die geskiedenis sowel as vandag, wat uitermate groot invloed uitoefen in hulle eie velde. Hy het veral drie insiggewende realiteite ontdek. Ons sal in hierdie nuusbrief slegs een van hierdie realiteite hanteer.

Die eerste is dat goeie leiers dinge anders síén as ander mense. Laat ons verduidelik. Die menslike brein is sentraal tot ons ganse bestaan en funksionering maar is ook uiters lui. Ons breine wil nie meer as vyf- en veertig Watt energie gebruik op ‘n gegewe oomblik nie. Daarom is elke mens se brein gedurig daarop uit om krag te bespaar. Om dit te kan doen moet hy kortpaaie neem soveel hy kan. Die brein wil dus nie nuut dink of kreatief wees nie, aangesien hy dan meer energie gaan moet gebruik as wat vir hom gemaklik is. Het jy byvoorbeeld al ingedagte in jou motorkar gery en gewonder hoe jy by jou eindbestemming aangekom het? Jy wonder want jy kan glad nie onthou dat jy by sekere strate afgedraai het nie. Dit gebeur wanneer jy bekende paaie ry en jou brein op die minimum krag kan funksioneer. Hierdie luiheid van die brein affekteer nie net die akkuraatheid en kreatiwiteit van ons denke nie maar selfs ook ons visuele sig. Wat min mense weet is dat ons oë alleen nie vir ons ‘n volledige spektrum van sig kan verskaf nie al beleef ons dit so. Die lig wat deur ons oë opgeneem word moet deur verskeie berekenings en interpretasies in die brein gaan voordat ons die belewenis van sig ervaar. Elkeen van ons het eintlik blinde kolle in ons gesigsveld wat deur die brein self ingevul word en die illusie skep dat ons oor ‘n volle veld van sig beskik. Omdat hy self sekere beelde vir ons invul, sien ons nie altyd dinge presies soos wat dit is nie maar soos wat ons brein vir ons dikteer en interpreteer. Vandaar die spreukwoord:

You don’t see things as they are; you see them as yóú are.

Daar is ook ‘n geweldige sterk verband tussen ons fisiese sig en ons verbeelding of denkprosesse. Hoe ons sien het ‘n geweldige effek op hoe ons dink ook, aangesien albei deur dieselfde deel van die brein geprosesseer word. Leiers wat verkeerd sien, of byvoorbeeld geestelike of kulturele realiteite onvolledig waarneem kan geweldige skade berokken aan sy/haar organisasie.

Burns se punt is: Leiers oefen hulle breine doelbewus en intensioneel om die lewe meer akkuraat, omvattend en volledig waar te neem. Selfs mense wat nie oor geweldige leierseienskappe beskik nie kan hierdie gewoontes aanleer en so hulle eie leierskaprol beter vervul. Hoe kan ons dit regkry? Burns skryf:

To see things differently than other people, the most effective solution is to bombard the brain with things it has never encountered before… Epiphanies rarely occur in familiar surroundings… It seems almost obvious that breakthroughs in perception do not come from simply staring at an object and thinking harder about it. Breakthroughs come from a perceptual system that is confronted with something that it doesn’t know how to interpret. Unfamiliarity forces the brain to discard its usual categories of perception and create new ones.

Hierdie is ‘n mondvol maar waarop dit neerkom is dit: Leiers is leiers onder andere omdat hulle hulle breine opsetlik oefen om nuut te sien en te dink. Hulle neem realiteit anders waar as die res. Hulle doen dit deur hulle te begewe in nuwe aktiwiteite wat hulle nog nooit vantevore ervaar het nie. Hulle doen dit deur hulle lywe te skuif na spasies waar hulle nog nooit vantevore was nie. Hulle steek byvoorbeeld kulturele grense oor; of bou verhoudings met iemand van ‘n ander geloof; of leer ‘n vreemde taal aan; of gaan slaap oor in ‘n informele nedersetting; of lees boeke oor temas wat hulle nie in die algemeen in belang sou stel nie; of hulle luister na kritiek van opponente en selfs vyande. Hulle is soos Frodo Baggins in Lord of the Rings wat sê I’ll take the ring but I don’t know the way.

Hulle doen die Star Trek ding: … to boldly go where no one has gone before.

Want nuwe onbekende belewenisse forseer die brein om geen kortpaaie te neem nie maar meer akkuraat waar te neem, nuut te kyk en kraakvars te dink. Hulle breek die roetine van die brein en skep nuwe belewenisse! Die gevolge is dat goeie leiers nuwe realiteite en moontlikhede ontdek terwyl ander mense blind bly.

Dis merkwaardig om daaraan te dink dat dit presies moes wees hoe Jesus sy eie dissipels opgelei het. Hy sê vir hulle Volg My, en dan sleep hy hulle lywe konstant na plekke waar hulle nog nooit vantevore was nie:

  • na heidense onheilige plekke soos Caesarea-Filippi en

  • deur storms op die see. Jesus daag Petrus selfs uit om op water te loop!

  • Hy lei hulle na ondenkbare ontmoetings met Romeinse soldate,

  • lei hulle tot diep in vyandige gesprekke met skrifgeleerdes en Fariseërs.

  • Hy rek hulle breine gedurig en leer hulle om God te vertrou in die onbekende en selfs deur lyding!

Leiers lei. Hulle het nie al die antwoorde nie. Maar hulle forseer hulleself om te gaan waar hulle nog nie vantevore was nie en hulle lei hulle vriende en kollegas ook soontoe!


bottom of page