Dit wat eg is
top of page

Dit wat eg is


Daar is ‘n toneel in die bekende fantasiefliek, The Hobbit – Battle of the Five armies, wat uiters baie oor die lewe kommunikeer. In die storie raak twee wesens, ‘n elf en ‘n dwerg, verlief op mekaar. Die prent loop egter uit op ‘n lang en bloedige oorlog tussen goed en sleg, waarin die dwerg sy lewe verloor. In ‘n baie hartseer maar hartroerende toneel in die fliek kniel die elf huilende by haar geliefde en sê:

Why does this hurt so much? If this is love I don’t want it. Why does it hurt so much?

Terwyl sy so sit met haar eie gevoelens van verlies, kom staan een van haar familielede by haar en antwoord haar vraag met die woorde:

Because it was real.

Hy bedoel natuurlik dat die liefde tussen die twee eg was. Iets wat soveel pyn kan veroorsaak moet eg wees aan die lewe. Dit geld natuurlik ook vir iets wat groot vreugde veroorsaak. Hierdie frase wat reg uit Tolkien se pen kom, vertel eintlik vir ons ‘n baie belangrike ding oor hoe die lewe werk. Het jy al ooit gewonder waarom ons so ongelukkig raak en soveel intense pyn beleef wanneer daar ‘n verhoudingsbreuk plaasvind tussen jou en ‘n geliefde? Waarom raak ons so ontsenu wanneer ons in konflik met iemand gedompel word? Waarom ontstel dit ons so wanneer ons nie met ons kinders oor die weg kom nie? Of wanneer ons ouers ons veroordeel? Of wanneer ‘n vriendskap skade ly? Waarom is ons egter gelukkig en vol vreugde wanneer ons verhoudings mooi uitwerk en wanneer ons in verhoudingsharmonie is met die mense naaste aan ons? Waarom is ‘n gesin so gelukkig wanneer almal goed met mekaar oor die weg kom?

Tolkien sou beweer dat hierdie verhoudings ons so diep raak omdat dit die diepste menslike- sowel as kosmiese realiteit verteenwoordig. In ‘n wêreld op soek na egtheid herinner ons verhoudings ons daaraan dat liefde en sinvolle verbintenisse die mees waardevolle en mees egte dinge op aarde is. Dit veroorsaak so baie pyn en vreugde want dit omvat ons ganse bestaan en bring betekenis na ons lewens toe. Verhoudings bring pyn en vreugde want dis fundamenteel tot ons lewensbestaan.

Wanneer Jesus ons dus leer dat liefde vir God en mense die grootste gebod is, dan is dit nie maar net sommer ‘n oulike opdraggie wat die Here uitgedink het omdat Hy ons graag sinvol wil besig hou nie. Nee, liefde is méér as dit. Baie meer. Die grootste gebod wil kommunikeer dat daar ‘n Drie-enige-God in die hart van realiteit staan wat in ‘n verhouding staan met Homself en met die wêreld. Daarom dat die verhouding tussen Jesus en die Vader so sentraal staan in byvoorbeeld die Johannes-evangelie. Daarom dat Jesus sê wanneer ons mekaar liefhet sal die wêreld sien dat ons aan Hom behoort.

Ons is dus die egste, die naaste aan werklikheid wanneer ons kies om lief te hê of wanneer ons besig is om te bou aan verhoudings.

Daarom moet ons nie moeg of moedeloos raak wanneer sommige verhoudings ons uitput of hartseer maak nie. Ons behoort eerder te besef dat ons hartseer raak juis omdat verhoudings so belangrik is. Nee, besef eerder dat verhoudings nooit weggooigoed kan wees nie en belê eerder opnuut jou tyd en energie daarin.

Dis waarom Jesus sy lewe aan die kruis uitgegiet het. Hy het die algehele en diepste prys denkbaar vir verhoudings betaal om sodoende alle verhoudings te red. Hiermee herdefinieer Jesus egtheid. Egtheid is nie ‘n ding nie, dis ‘n Persoon! Hy is die mees egte Persoon in die heelal en Paasnaweek is (naas die skepping) die mees egte gebeurtenis in die geskiedenis!

Leer eerder om in verhoudings te belê.

Dan connect ons met Goddelike realiteit.

Dan is ons real.


bottom of page