Episode 2 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]
top of page

Episode 2 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]


Lees Romeine 2:1 – 3:20. Oefening God se oordeel geskied volgens sekere beginsels. Lees Romeine 2:1 – 16. Stel vas watter beginsels of kriteria God in ag neem, wanneer Hy oordeel. Skryf soveel as moontlik sulke beginsels neer. Oordenking Beginsels van God se oordeel: - God is altyd ten volle regverdig. Daarom sal sy finale oordeel heel eerstens regverdig wees. Verse 1 – 5 gee ons die versekering hiervan. Romeine 2:1 is die tweede keer dat Paulus pertinent sê dat daar vir mense geen verontskuldiging is nie. In 1:20 verduidelik hy dat daar geen verontskuldiging vir die heidene is nie, aangesien ‘n mens God al gedeeltelik kan waarneem uit sy skeppingswerke. Hier in hoofstuk 2 sê Paulus dat daar ook geen verontskuldiging vir onbekeerde Jode is nie, aangesien hulle reeds God se Wet ken. Trouens, hulle oordeel ander mense juis aan die hand van God se Wet, alhoewel hulle dit self nie ernstig opneem nie. God se regverdigheid kan ook gesien word in sy goedheid (2:4). Die doel van sy goedheid is juis om mense se oë oop te maak en hulle harte sag te maak vir God se liefde. Daarom laat Hy toe dat dit reën en dat die son skyn oor goeie mense sowel as slegte mense. Almal kry verniet suurstof elke dag kry almal geleentheid om weer te probeer. Die rede is sodat mense hierdeur kan bewus word van God se teenwoordigheid en sodat mense se gewetes kan ontwaak teenoor God. - Mense gaan volgens hulle dade (lewens) geoordeel word (2:6 - 8, 13). Dade in hierdie konteks moenie vertolk word as dat ons redding van ons eie werke afhanklik is nie. Dit kan gesien word in sy redenasies vanaf 3:21 tot aan die einde van die hele Romeine-brief. Paulus wys ons deurgaans daarop dat ons slegs deur geloof en genade alleen gered word. Paulus verwys egter hier na die feit dat (in die taal van Jakobus 2:14 - 22) geloof sonder werke dood en nutteloos is. Met ander woorde: ‘n hart en lewe wat waarlik oorweldig is deur die genade van die kruis, word gerig deur die lewe van Jesus. Ons leef nou soos Jesus en kan nie meer leef soos vantevore nie. Dit beteken nie dat ons volmaak word nie, maar wel dat die ingesteldheid van ons lewens verander en begin groei van selfsug na onselfsugtigheid. Calvyn het byvoorbeeld hieroor gesê dat niemand deur goeie werke gered word nie, maar dat niemand sonder goeie werke gered word nie. - God se oordeel is ook onpartydig (2:9 - 11). Dit was die hele punt van die videosnit. God sal nie die Jode voortrek bloot omdat Hy Israel uitgekies het en sy Wet vir hulle gegee het nie. God het geen witbroodjies nie. Hy hanteer almal volgens dieselfde beginsels. - Vierdens sal die kennis wat elke mens tot sy/haar beskikking ook in ag geneem word wanneer God oordeel. In 2:12 sien ons dat beide mense, wat sonder God se Wet geleef het, sowel as die onbekeerde Jode, wat wel sy Wet gehad het, verlore gaan. Ons sien egter ook dat hulle volgens hulle kennis geoordeel sal word. Die Jode sal volgens die Wet geoordeel word, omdat hulle die Wet gehad het. Die heidene sonder die Wet kry egter nie summier ‘n vrypas hemel toe nie (tensy hulle na Jesus toe draai). Hulle sal ook verlore gaan, maar wel as mense wat nooit die Wet geken het nie. God sal dus hulle kennis in ag neem. Hoe dit presies prakties gaan uitspeel, word nie vir ons gesê nie. Verse 14 - 15 wys ons egter daarop waarom die mense sonder die Wet steeds verlore gaan: omdat, al het hulle nie die geskrewe Wet nie, hulle ‘n eie morele wet het waarvolgens hulle leef. Hierdie eie wet, wat op hulle harte geskrywe staan, dien as ‘n rigtingwyser na God en sy Wet. Oefening Wat sou jý vir ‘n veroordelende Jood sê wat hom/haarself sus met die feit dat hulle God se Wet het en ander mense dit nie het nie? Gebruik 2:17 – 3:8 om inhoud te gee aan jou antwoord. Oordenking In 3:9 – 20 gee Paulus ‘n gevolgtrekking en samevatting oor hierdie eerste hoofgedeelte van die Romeine-brief. Hier verduidelik Paulus die rede vir God se woede oor die sonde van mense. God is nie maar net kwaad, omdat Hy kleinserig en verkramp probeer wees nie. Verse 12 – 18 illustreer vir ons die skade, wat sonde aan die wêreld doen: sondaars bedrieg, hulle vergiftig die gemeenskap met hulle kwaadpratery, vervloeking en bitterheid. Hulle vergiet bloed en vernietig ander mense se lewens, terwyl hulle verwoesting agterlaat. Vrede is nie hulle missie nie. Selfs al doen nie alle mense hierdie dinge fisies nie, dink hulle die dinge wel in hulle gedagtes, wat wys hoe verrot die menslike spesie eintlik geword het. Om hierdie rede is daar vir niemand uitkomkans nie... tensy daar iewers ‘n ander plan is en goeie nuus skuil, waarvan ons nie weet nie. Meer daaroor in die volgende sessie.

GEBED: Here, ons God, bewaar ons asseblief van die selfvoldane kennis wat Jesuslose godsdiens vir ons gee. Help asseblief dat ‘n oordrewe vertroue in daardie kennis nie ons ore sal sluit vir U stem nie.


bottom of page