Gee jou bekommernis vir God
top of page

Gee jou bekommernis vir God


As daar nou iemand is wat 'n berg van 'n molshoop kan maak, is dit ek. Ek kan my vreeslik bekommer en soms snags wakker lê en my probleme groter maak as wat dit is. Ja, ek is 'n regte stresprinses. Hier aan die begin van 2020, hoor ek toe die volgende skrifgedeelte sommer twee keer op een dag. Filippense 4: 6 en 7: "Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef...Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos 'n veiligheidswag oppas."

Ek was doodseker dat die Here vir my iets wou sê en net daar maak ek dit toe my enigste nuwejaarsvoorneme: om my bekommernisse vir God te gee. Ek weet dit klink makliker gesê as gedaan, party van ons het immers groot probleme. Die werklikheid is dat ons in 'n gebroke wêreld leef. Party mense het dalk finansiële probleme en ander het dalk huweliksprobleme. Dalk is daar ernstige siekte in jou familie of jy bekommer jou oor jou kinders.

Die probleem met bekommernis is dat soms oorgaan in vrees. Vrees maak jou lam en dan sukkel jy om op God te vertrou. Vertroue en vrees is nie versoenbaar nie.

Moses het oorgenoeg gehad om hom oor te kwel toe hy die Israeliete na die beloofde land moes lei. Hy was immers verantwoordelik vir duisende mense se welsyn. Omdat Moses vertrou het, het hy geweet dat God sou sorg. Sy vertroue het nie afgehang van sy omstandighede nie.

Ons uitdaging vandag is om bekommernis en vrees te verban en op God te bly vertrou. Om die wete te hê dat God groter as jou probleme is. In Hebreërs 12: 1 en 2 lees ons: "Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun."

Kom ons probeer om nie in die probleme langs die pad verstrik te raak nie en eerder op Jesus te fokus. Dit gaan dalk vra dat ek en jy ons breine moet herprogrammeer en elke keer as jy weer aan jou probleme dink, dit vir die Here te gee.


bottom of page