Ken die verskil tussen waai en waarsku
top of page

Ken die verskil tussen waai en waarsku


Op ‘n keer moes ek by 'n plek praat oor ‘n gesonde leefspoed. Toe vra ek vir die aanwesige om hulle eie leefspoed in kilometer per uur uit te druk. Meeste persone s’n was ver buite die spoedgrens. Een dame het vir my gesê sy leef teen 160 km/h. Toe wou ek by haar weet hoe hoor sy vir God teen daardie spoed. “I just wave at Him every morning. And He waves back at me,” sê sy. “No you’ve got his hand signals all mixed up,” antwoord ek. “God is not waving at you. He is showing you to slow down. But you are going too fast to spot the difference.” Die verskil tussen waai en waarsku is lewensbelangrik! Mens kan egter net die verskil tussen wuif en waarsku raaksien as jy teen God se spoed leef.

God was bereid om sy eie spoed te verminder tot by loopspoed toe Hy die eerste mense geskep het. Die Here se spoed is verhouding-spoed. Hy wil graag saam met ons loop. Hy wil met ons tyd deurbring. Daarom moet ons ons leefspoed in pas met die Here s'n bring as ons regtig sy stem wil hoor. Dit is al manier hoedat ons geestelike brandstoftenk vol kan bly. “Running on empty” mag nooit in 2020 met ons gebeur nie. Die Here nooi ons elke dag uit vir ‘n wandeling saam met Hom. Wanneer ons saam met Hom stap, kom ons gejaagde harte tot bedaring. Dan waai ons nie net vir die Here terwyl ons onsself stokflou jaag nie. Om dit getrou reg te kry, moet ons tyd maak en tyd hê vir die Here- stiltetyd, bid-tyd, nadink tyd, Bybellees-tyd, kerk-tyd. Ons moet elke dag vir Christus raaksien en raakleef in die geloof. Hy het immers gesê Hy is by ons al die dae tot aan die einde.


bottom of page