Episode 1 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]
top of page

Episode 1 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]


Welkom by ekerk se 12 Weke Bybelskool oor die boek Romeine Hierdie is die eerste episode van ons 12 Weke Bybelskool deur die boek Romeine. Elke week sal ons die nuutste episode oplaai.. Indien daar enige vra is, kontak asb info@ekerk.org. Episode 1

deur Roedolf Botha

Lees Romeine 1:18-32. Oordenking Paulus se evangelie behels goeie nuus, baie goeie nuus! Maar om hierdie goeie nuus te verstaan, moet ‘n mens eers die slegte nuus hoor. Ons moet eers hoor wat die groot probleem in die wêreld is, voordat ons die goeie nuus as oplossing kan waardeer! Paulus begin dus om ʼn aangrypende skildery met woorde te verf aangaande die algemeen benarde toestand van die mens. Hierdie skildery het hoofsaaklik te make met die mens buite die familie van Christus. Oefening Lees Romeine 1:18 - 23. Wanneer Paulus praat van God se toorn, dan verwys die Griekse woord orgé na woede. Dit impliseer dat God kwaad is. Min mense, binne sowel as buite die kerk, praat vandag oor God wat “woedend” is. God word tog meestal uitgebeeld as liefdevol. Skryf in ʼn paar woorde neer hoe jy hieroor voel. Wat gaan deur jou gedagtes wanneer jy daaraan dink dat God ook wel ʼn God kan wees wat kwaad is? Oordenking Dis natuurlik belangrik om God se woede reg te verstaan. God se woede is altyd ʼn respons, dis nooit sy primêre houding nie. Dit wil sê God se woede is ʼn reaksie op sonde; dis nooit deel van God se essensiële Wese nie. God is nie sommer net kwaad oor niks nie, of omgekrap, omdat Hy op ʼn dag in ʼn slegte bui opgestaan het nie. Hy is kwaad met rede. God is kwaad oor sonde, oor ongeregtigheid. Hy is kwaad wanneer goddelose mense mekaar in ongeloof sleg hanteer, verdruk, seermaak of vernietig. Indien die sonde dus nie daar was nie, sou God ook nie kwaad gewees het nie. In kontras met God se woede kan dieselfde byvoorbeeld nie van sy liefde gesê word nie. God se woede is nie primêr nie. Dis nie fundamenteel tot God se Wese nie, maar sy liefde is wel. Daar kan nie gesê word “God is woede”, soos wat die Bybel sê “God is liefde” nie. ‘n Mens sou dus kon sê dat God se woede reaktief is, maar sy liefde proaktief. Oefening Paulus sluit hier waarskynlik aan by Ou Testament-tekste, soos byvoorbeeld Eksodus 20:5 - 6. Lees dit gerus en kyk hoe God se liefde altyd groter is as sy toorn of oordeel.​ Oordenking God se woede is dus ʼn reaksie, maar dis nooit impulsief of onbeheers nie. Dis nie soos iemand wat sy/haar humeur verloor en sy/haar speelgoed uit die kot gooi nie. Dis beheersd, redelik en regverdig. Woede en liefde is nie altyd vyande nie, maar is heel dikwels vennote. Hulle gaan altyd saam. God se regverdige woede is dus nie anti-liefde nie, maar eintlik juis pro-liefde! Dink ‘n bietjie aan mense vir wie jy al die kwaadste was. Is baie van hulle nie juis mense vir wie jy baie lief is nie? Dink byvoorbeeld daaraan hoe kwaad ʼn dogter soms kan raak vir haar alkoholis-pa, wat homself vir die soveelste keer aan besopenheid oorgee. Of dink aan ʼn ma wat smoorkwaad is vir haar tienerseun, wat onwyse besluite neem, terwyl sy weet hy gaan sy eie kop hard stamp en seerkry. Hierdie is mos glad nie hatige woede nie, maar ʼn hartseer woede, wat gebore is uit ʼn diep omgee vir die mense vir wie jy lief is. Dis juis geregverdig, omdat hierdie mense verkeerd handel en soms die mense rondom hulle ook skade berokken. Paulus se punt is dus dat mense van die tyd van Adam af ander skepsels eer en aanbid en nie die Skepper as die groot Weldoener nie. Die Skepper-God alleen is die groot Weldoener, die Een wat aan almal lewe, asem en voortbestaan skenk. Die mense kies egter om nie sy weldade raak te sien nie, of om dit te ignoreer deur vir hulleself afgode te skep – dit lei tot hulle eie ondergang. Hieroor is God ontsteld en kwaad. Indien God egter glad nie sou omgee vir sy skepsels nie, sou Hy geen woede getoon het nie. Sonder woede oor die verkeerde sou God ongeërg gewees het. Woede is dus nie in God se geval liefdeloos nie. Inteendeel. Ongeërgdheid (“indifference”) is die ware teenpool of vyand van liefde. Oefening Skryf 'n paar sinne neer oor wat jy dink dit beteken dat die mens die waarheid onderdruk deur hulle ongeregtigheid (vers 18). Wat is God se praktiese strategie met betrekking tot sy oordeel? Met ander woorde, hoe voltrek Hy dit in die menslike samelewing? Lees vers 24 - 32 en skryf ʼn paar sinne hieroor neer. Oordenking God voltrek sy oordeel en woede met ʼn drieledige handeling. In vers 24 - 28 word drie maal gesê “Daarom gee Hy hulle oor...”. God gee die mens oor aan sy eie drange, begeertes en sieninge. Hy doen dit, omdat die mens dit van geen belang ag om God te ken nie. Sommige teoloë sien hierdie gedeelte as drie stappe van verrotting van ʼn goddelose samelewing. Kom ons kyk vlugtig hierna.

  • Drange en begeertes (wat op sigself goed kan wees) skakel oor in wellus en perversiteit (vers 24). Dis wat gebeur wanneer mense die waarheid verruil vir die leuen: hulle begin die leuen uitleef in vernietigende lewenswyses, wat slegs kan eindig in ewige tragedie.

  • Natuurlike seksualiteit skakel oor in teen-natuurlike seksualiteit, naamlik homoseksuele perversiteit (vers 26). Hier moet dit duidelik gestel word dat dit vir Paulus handel oor aktiewe homoseksuele gedrag en nie oor mense met ʼn homoseksuele oriëntasie, wat ʼn rein en selibate lewensstyl leef, nie.

  • Redelikheid en openheid vir God se waarheid skakel oor in intellektuele verrotting en irrasionele verdraaiings van die realiteit (vers 28). Hierdie is die oortreffende en gevaarlikste stap van menslike agteruitgang. Omdat mense volhardend lewenslange gewoontes aangeleer het om die waarheid oor God te systap, “verhoor” God as’t ware hulle onuitgesproke gebede om alleen gelaat te word. God gee hulle dus oor aan hulleself, dat hulle hulle eie leuen met ʼn naïewe opregtheid begin glo. Nou kan hulle nie meer die waarheid erken nie, selfs al struikel hulle daaroor. Hulle betree dus nou ʼn Godverlatenheid, wat maak dat hulle gestroop is van enige vermoë om die goeie te herken.

​Oefening Skryf 'n paar opsommende gedagtes aangaande Romeine 1 neer en sluit die episode af met ʼn gebed, indien jy wil.

GEBED: Vader van ons Here Jesus Christus, baie dankie vir U genade en vrede. Dankie ook vir U Goeie Nuus! Ons bely egter dat ons mense soms gode skep in ons eie beeld, sodat ons U, die ware God, nie in die oë hoef te staar nie. Open asseblief ons oë en red ons van onsself.


bottom of page