Evalueer jouself
top of page

Evalueer jouself


Die een ding wat programme soos American Idols, The X-Factor en Britain’s got Talent reg het, is dat mens elke nou en dan moet toelaat om geëvalueer te word. Sonder eerlike en opregte openheid, aangaande waar mens kan verbeter, sal niemand van ons werklik kan groei nie. Trouens, Gordon MacDonald wys daarop dat dit juis die rede is waarom so baie Jode in die geskiedenis die weeklikse Sabbat geweldig hoog geag het. Elke week op die Sabbat het die mense van Israel nagedink oor hulle persoonlike doel en rigting, hulle verhoudingswêreld, die pyn van die verlede asook vaardighede en areas van hulle persoonlike karakter wat hulle graag wil bemeester.

Jakobus verduidelik juis dat die Woord van die Here soos ‘n spieël is waarin ons kyk sodat ons kan sien hoe ons werklik lyk (1:23). Aan die begin van ‘n nuwe jaar kan dit ook belangrik wees om onsself te evalueer sodat ons kan seker maak ons vorder in ons liefde vir- en lewenswandel met die Here. Om my te help het ek tien vrae opgestel aan die einde van 2019, waaraan ek my vordering kan monitor tydens 2020. Hierdie vrae is gebaseer op my verstaan van die Bybel. Ek deel dit graag met julle.

  1. Het ek tydens 2019 toegeneem in my genot van die Here?

  2. Watter gebed in verband met my karakter, is verhoor verlede jaar?

  3. Hoe het die kwaliteit van my gesinslewe, en my vriendskappe verhoog?

  4. Watter nuwe geestelike gewoonte het ek aangeleer of begin bemeester?

  5. Wat was my grootste tyddief?

  6. Op watter manier het ek die familie van die Here, my plaaslike gemeente, sterker gemaak verlede jaar?

  7. Vir wie se redding het ek gebid verlede jaar?

  8. Hoe het ek die wêreld ‘n beter plek gemaak?

  9. Hoe het ek omgesien na armes, siekes en randfigure in ons omgewing?

  10. Wat het ek gedoen wat nog sal saak maak na tien jaar?

Toe ek deur hierdie vrae kyk toe besef ek veral hierdie twee dinge: Die Here se standaarde vir ons lewens is hoog, maar sy genade is groot! Ek het besef het ek nog ver om te groei. Ek het egter soos Jeremia ook besef dat die Here se genade vir my elke dag kraakvars en splinternuut is!

Die aanbreek van 2020 is juis ‘n bewys hiervan dat ons weer splinternuwe kruisgenade ontvang het!


bottom of page