top of page
  • deur Stephan Joubert

Geloof van stopstraat tot stopstraat


Ek sukkel gedurig met die kleiner detail van geloof. Met oortuiging glo ek al die groot waarhede van die Bybel. Ek glo Jesus is presies wie Hy sê Hy is. Ek glo Hy het gesterf en opgestaan uit die dood, en al die ander pilare waarop ons geloof berus. Maar ek sukkel soms om hier in die oomblik my geloof getrou uit te leef. Te veel kere praat ek voordat ek dink. Dan praat ek enigiets vanaf nonsens tot kwaai woorde waaroor ek na die tyd spyt is. Ook sukkel ek soms agter my motor se stuurwiel - soos verlede week toe ek by ’n drierigting-stopstraat stilhou. ’n Ander motor kom enkele sekondes later daar aan. Ek aanvaar ek het ryvoorrang en trek weg en toe jaag die ou op my af en stop teen my motor met vingers wat allerlei lelike dinge verduidelik. Net daar is ek woedend en dink hardop ’n paar goor dinge. Genadiglik ry ek weg, maar ek is vir lank na die tyd omgekrap - nie soseer oor die stopstraat episode nie, maar oor my eie oorhaastige reaksie en my woede. Dit pas net nie by ’n gelowige nie, wat nog te sê iemand wat darem al ’n hele klompie jare agter Jesus aankom.

Gelukkig weet ek dat die Here my nie afskryf as ek die detaildinge verkeerd kry nie. Hy het lankal al die prestasiemeting wat God van my vra namens my voltooi. En Hy het geslaag. Daarom is daar elke slag genade. Daarom is daar elke keer ’n oorbegin, ook in die daaglikse roetes. God sorg nie net dat my pad gelyk is wat al die groot kernwaarhede van die Bybel betref nie; Hy maak dit ook gelyk in die detail-dinge van die lewe. Ook hier is Hy aanwesig. Ook hier is HY genadig. Hy is immers die God wat die hare op ons kop een vir een getel het, soos wat Jesus in Matteus 10 leer. Dit is my troos.


bottom of page