Wakker-slaap!
top of page

Wakker-slaap!


Ek weet nie of jy al gehoor het van die lekker Afrikaanse gesegde wat dikwels gebruik word om mense te laat weet dat hulle moet oplet, of meer bewus moet raak van wat om hulle aangaan. Daai sêding is: “Djy sal moet wakkerslaap, ou pel”. Ek dink Jakob het nodig gehad om so iets te hoor daar aan die einde van Genesis 28.

Ou Jakob, wie se storie ons ook mee goedbekend is. Jakob wie sy pa en broer om die bos gelei het. Jakob wie haastig sy ouerhuis moes verlaat het oor sy broer hom wou vermoor. Dis die einste Jakob vir wie God- ten spyte van sy tekortkominge- ‘n droom gegee het, groter as wat hy ooit kon dink. Ten spyte van die onmin wat tussen hom en sy broer was. God kom ontmoet vir Jakob daar op sy weghol pad en gee hom ‘n wakkerslaap oomblik wat hy so amper-amper gemis het.

Ons lees in Genesis 28:15-16 God sê vir Jakob, “Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou weer terugbring na hierdie land toe. Ek sal jou nie verlaat nie, maar doen wat Ek beloof het.” Toe Jakob wakker word, sê hy: “Sowaar! Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie eers geweet nie!”

Hier in sy droom word Jakob deur God ontvoer- uit sy moeë, deurmekaar, harde aardse realiteit na ‘n hemelse realiteit. ‘n Realiteit waarin God hom wil wys hoe sy lewe eintlik moet en gaan wees vanuit God se perspektief. Toe Jakob wakker word besef hy dat daar Iemand groter as hy teenwoordig is. Dat God teenwoordig is.

Jy sien, die realiteit waarvan ons die meeste bewus is, sal uiteindelik ook ons denke, ons perspektief en ons hoop op die lewe, oorneem. Watter realiteit is jy die meeste van bewus in jou lewe op die oomblik? Lewe jy met ‘n bewustheid dat God goed is ten spyte van wat ek om my sien en beleef? Lewe jy met die hemelse realiteit van Sy alomteenwoordigheid? Of is hierdie tydelike, aardse realiteit al wat jy sien, aan dink, en van droom?

Paulus moedig ons aan in Kolossense 3:1-2 om met meer bewustheid van die dinge daarbo te leef. Hy sê: “strewe na die dinge daarbo, waar Christus is. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie...” Hiermee sê nie Paulus, of ek, dat ons met ons koppe in die wolke moet loop, en onbewus wees van wat op die aarde gebeur nie. Maar te veel keer leef en dink ons asof daar nie ‘n ander, hemelse realiteit bestaan nie. Ons is oorlaai met die sorge van hier en nou. Ons werskaf asof dié wêreld die enigste een is wat saak maak. Maar dit is nie. En daarom is dit uiters belangrik vir gelowiges om soveel as moontlik oomblikke van bewuswording in ons lewens in te bou. Dat ons nie so ‘realisties’ oor die lewe raak dat daar nie spasie is vir God om ons te oopbek te verbaas met die hemelse realiteite nie. Maar dat ons toelaat dat die hemelse realiteit ons aardse realiteit kom onderbreek.

Jakob het daai hemelse onderbreking hier op aarde amper gemis. So baie van ons mis dit. Ons kort gereeld ‘n wakkerslaap oomblik. Soos ‘n onderwyser altyd sou sê, “as jy skrik, skrik tog net wakker”. Eers toe Jakob ten volle besef wat aan die gebeur is; toe sy oë regtig oopgaan, toe kon hy sê soos dit in die NIV- vertaling staan: “How awesome is this place! This is none other than the house of God!”

Vriende, die drome wat ons het of die verandering wat ons wil sien, dit begin eers by ‘n bewuswording...van waar jy is, in wie se teenwoordigheid jy staan, en dat jou aardse realiteit nie alles is nie.

Waarvan droom jy vir die jaar of dekade? Kan jy dit sien, of visualiseer, al het jy nie die hulpbronne, of netwerke om dit te maak werk nie. Moenie ophou droom saam met God nie. Moenie dat realisties wees jou weerhou om God se hartklop vir jou te hoor nie. Mag jy wakkerslaap, en beleef dat God teenwoordig is in jou lewe, jou storie, jou jaar, en mag jy nie soos ‘n hedendaagse Jakob sê: Die Here is hier, en ek is te realisties oor die lewe om Hom te sien.


bottom of page