Daardie adresveranderings
top of page

Daardie adresveranderings


Heel aan die begin het God Homself in ‘n tuin aan die eerste mense bekendgemaak. Later, nadat Hy uit die tuin verhuis het as gevolg van sonde, het Hy Hom in die tent gevestig. Hier het God deur Moses met sy volk gepraat. Na ’n ruk het Hy egter van adres verander. Die tempel in Jerusalem het toe die nuwe simbool van God se aardse teenwoordigheid geword. Hier kon die Israeliete offers aan God bring en hulle sondes voor Hom bely.

Met Jesus se koms het die tempel uit die mode geraak. Terwyl Jesus vir ’n kort rukkie tussen ons kom woon het, was Hy die fokuspunt van God se teenwoordigheid. Mense kon in sy woorde en dade vir God leer ken. Toe Jesus na die hemel teruggekeer het, het God vir oulaas voor die wederkoms verhuis. Hy het by sy kinders self kom intrek. Mense wat in Jesus as Here glo, het toe tempels van die Gees geword.

Vanaf die tuin na die tabernakel na die tempel, en vanaf Jesus tot by die kerk as lewende tempel van die Heilige Gees - dit is hoe God se pad met sy kinders loop. En die goeie nuus: dis ’n pad wat nader en nader aan ons beweeg het totdat Hy uiteindelik by ons kom bly het. Ons almal wat in Jesus glo, is nou lewende blyplekke van God.

Gebed

Heer drie-enig, in stil vreugde juig ek dat U vir altyd naby is. Amen


bottom of page