Meld aan…. as ’n Samaritaan!
top of page

Meld aan…. as ’n Samaritaan!


Iemand vertel my van haar vriendin wat een keer ‘n vliegtuig verpas het. ’n Onbekende persoon wat daar op die lughawe gewag het op ‘n ander vlug vra vir haar wat gaan sy doen. “I’m still praying about it,” antwoord sy. “I think God is very busy at the moment. Let me help you,” sê hy toe vir haar. Die Here se Samaritane is regtig orals, met goeie humor en al. Partykeer is die Samaritaan daardie onbekende persoon wat jou uithelp as jy ‘n paar rand te min byderhand het om vir jou parkeergeld te betaal in 'n winkelsentrum. Of dit is iemand wat vir jou spasie maak in die besige verkeer. Of dit is ‘n vreemdeling wat stilhou langs die pad as jou motorwiel pap is. God se koninkryk gebeur regtig verrassend. Om elke hoek en draai loop jy as'te ware in die hemel vas by wyse van mense wat graag help en omgee.

Wees asseblief ook een van die Here se Samaritane. Meld aan vir diens. Meld elke dag aan om te dien. Laat toe dat die Heer jou hart aanraak om iemand anders se nood of pyn raak te sien. Laat toe dat Hy jou gebruik as die antwoord op iemand se gebede. Al is dit dalk nou vakansietyd vir jou - onthou, jy is nooit af-diens in die Here se diens nie. Onthou, jy werk nie maar net vir die Here nie, jy leef vir Hom. En dit doen jy 365 dae van die jaar. Juis hier in kersfeestyd is dit ’n baie goeie tyd om aan diens te wees vir die Here. Hou jou oë oop. Sien raak waar jy ’n klein of ’n groot las vir iemand in sy Naam kan dra. Doen dit en leef!


bottom of page