Kosbare verhoudings bou die Koninkryk
top of page

Kosbare verhoudings bou die Koninkryk


Paulus het vir Titus aangemoedig om nie die kosbare skat wat aan hom toevertrou is, te verwaarloos nie. Soos met elkeen van ons het God ook aan my en jou kosbare gawes toevertrou, en die belangrikste van alles: die gawe van sy Gees wat in my as sy kind woon. So stel Hy my onder andere in staat om as’t ware my lewe deur ander s’n te weef deur middel van kosbare verhoudings. In die proses word die Evangelie nie net uitgedra nie, maar kan ons dit sien realiseer, en ook na die volgende geslag oordra.

Ek en Brink het self die voorreg van ‘n hele paar sulke mentors/bemoedigers in die verlede gehad; sommige van hulle is nog steeds vir ons ‘n voorbeeld en inspirasie. Hulle het ons gewys hoe belangrik dit is om so te lewe dat mense meer oop vir die Evangelie en liewer vir Jesus sal wees nadat hulle ons leer ken het. Dit het uiteindelik vir ons ‘n lewenstaak geword om so outentiek te leef dat Jesus vir ander meer aantreklik sal wees.

Om outentiek te leef, al hoe meer soos Jesus te word, beteken natuurlik dat ek soos Hy nie op my eie behoeftes en regte sal fokus nie (Filippense 2) maar in liefde ingestel sal wees op die behoeftes van ander om my. Dit beteken ook dat ek “vitally united” met Jesus sal leef (Johannes 15) en gehoorsaam in sy voetspore volg. Daar is nie ruimte vir kleinserigheid en onverdraagsaamheid nie. In die proses is my lewe so aantreklik dat elke persoon wat oor my pad kom iets van Jesus se liefde in my sal sien.

Wanneer ek myself omring met sulke “divine connections”, mense wat my kan aanmoedig en sorg dat ek dit ook vir ander is, gaan dit soveel makliker wees om te leef soos wat John Wesley het gesê:

Do all the good you can

By all the means you can

In all the ways you can

In all the places you can

At all the times you can

To all the people you can

As long as ever you can.

Met my gawes so in die Here se diens, is ek ook in hierdie Feestyd deel van die seën wat God vir ‘n soekende mensdom bedoel het.


bottom of page