Tempelbewoner
top of page

Tempelbewoner


God se derde adres op aarde is die tempel in Jerusalem. Hier het Hy Hom die langste gedurende die Ou-Testamentiese era bekend gemaak. Die tempel was ‘n plek van glans en glorie. Dit was verdeel in verskillende afdelings vanaf ‘n voorhof vir nie-Jode tot en met die allerheiligste deel waar die hoëpriester slegs een keer per jaar kon ingaan om namens die volk se sondes versoening te doen.

Tog het die tempel later sy glans in God se oë begin verloor, soos wat een profeet na die ander aangekondig het. Jeremia het hardop uitgeroep dat, terwyl die volk al te luistig praat van die Here se tempel, pleeg hulle in dieselfde asem die een skrikwekkende afgodery na die ander (Jeremia 7). Op sy beurt het Maleagi gesê dat die volk liefs maar die tempel se deur moes sluit omdat God glad nie meer opgewonde was oor die offers wat sy volk daar gebring het nie (Maleagi 1).

Hier by die tempel as God se derde aardse adres kon mense offers vir hul sondes bring en God se wil beter leer ken, maar die ongehoorsaamheid aan die kant van mense het veroorsaak dat God uiteindelik besluit het om te verhuis. Gelukkig het Hy nie die wêreld verlaat nie. God skryf ons nooit af nie. Hiervoor het Hy sy handewerke veels te lief. Nou nog. Goddank!

Gebed

Dankie, Vader, dat U ons so hoog ag dat U tussen ons kom bly. Amen


bottom of page