Leier Nuusbrief November 2019
top of page

Leier Nuusbrief November 2019


Wat leer die Bybel vir ons oor leierskap

As jy vir goeie raad oor leierskap wil lees, lees die Bybel. Jesus was ‘n unieke en uitmuntende leier. Hy het ander aangemoedig om sy visie te deel, sy boodskap te versprei en selfs vir hom te sterf. Hy is as ‘n kriminele person tereggestel, maar het ‘n geloof begin wat vandag meer as 2 biljoen volgelinge het.

Dr. Thorsten Grahn het Jesus as dié model van dienaarleierskap beskryf. Hy gebruik Johannes 13:1 – 17 en identifiseer verskeie aspekte van Jesus se leierskapstyl:

  • Jesus se basiese motivering was liefde vir sy volgelinge;

  • Jesus was ten volle bewus van sy posisie as leier;

  • Voordat sy dissipels vir Hom as dienaar beleef het, het hulle Hom reeds as Meester en as ‘n sterk en kragtige leier beleef;

  • Jesus word vrywillig ‘n dienaar vir sy volgelinge;

  • Hy het nie primêr as voetwasser gekom nie, maar was bereid om hierdie diens te verrig as sy volgelinge dit nodig gehad het; en

  • Jesus wil ‘n voorbeeld stel vir sy volgelinge om na te volg.

Hier is ‘n aantal Bybelverse oor leierskap wat leiers vandag steeds kan help:

  • Behandel ander mense soos julleself behandel wil word (Lukas 6:31).

  • Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as himself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander (Filippense 2:3 – 4).

  • Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe (Spreuke 4:23).

  • Verder moet jy onder die volk bekwame manne uitsoek, dienaars van die Here, mense wat die waarheid liefhet en nie hulle eie voordeel soek nie. Dan moet jy hulle oor die volk aanstel as leiers oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien (Eksodus 18:21).

  • Dawid het die volk met toewyding versorg en hulle met oorleg gelei (Psalm 78:72).

  • Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees (Matteus 20:26).

  • Laat julle “ja” eenvoudig “ja” wees en julle “nee” “nee”, wat meer gesê word as dit, kom van die Bose (Matteus 5:37).

  • Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle (1 Petrus 5:7).

  • Hy moet meer word en ek minder (Johannes 3:30).

  • En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie (Galasiërs 6:9 – OAV).

  • Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee (Filippense 4:13).

  • ‘n Ouderling moet onberispelik wees, getrou aan sy vrou, nugter, verstandig, beskaaf, gasvry en bekwaam om te onderrig; hy moenie aan drank verslaaf of ‘n rusiemaker wees nie, maar inskiklik, vredeliewend en nie geldgierig nie (1 Timoteus 3:2).

  • Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ‘n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid (1 Timoteus 4:12).

  • Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het (Hebreërs13:7).

  • As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid (Romeine 12:8).

  • Julle noem My julle Leermeester en Here, n julle is reg, want Ek is dit. As Ek wat julle Leermeester en Here is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel en soos Ek dit gedoen het, moet julle ook doen. Dit verseker Ek julle; ‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en ‘n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie (Johannes 13:13 – 16).

  • Jesus roep hulle toe nader en sê vir hulle: ‘Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees, en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense (Markus 10:42 – 45).

  • Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien (Matteus 23:11).

Dit is duidelik dat die Christus-gesentreerde leier toegewy is aan die behoeftes van ander en bereid is om hulle behoeftes voor sy eie te stel. Hulle Is bereid om met mag en liefde te lei as ‘n voorbeeld van diens. Hulle ontwikkel ander in dienaarleiers en vra voortdurend vir terugvoer van diegene wat hulle wil dien sodat hulle meer en meer sal word soos dié dienaarleier: Jesus Christus.

Reaksie op verandering

Min mense hou van verandering – veral onverwagte verandering. Kerkleiers moet kan reageer op nuwe situasies in ‘n Christus-gesentreerde manier. Ons moet vyf beginsels in gedagte hou as ons ons voorberei vir ons reaksie op verandering:

1. Onthou God se karakter

Jy mag verbaas wees as verandering plaasvind, maar God is nooit verbaas nie. ‘n Mens se lewe lê oop voor die Here, elke tree wat jy gee, sien Hy (Spreuke 5:21), maar terselfdertyd moet ons onthou dat God altyd teenwoordig is n tye van nood [God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood – Psalm 46:2] Om op God se liefdevolle goedheid te vertrou, vertroos ons.

2. Jaag God se wysheid na

Met enige verandering is daar altyd die moontlikheid van konflik. Ons eerste reaksie is om dit reg te stel. Daar is egter een belangrike stap vooraf: gee aandag aan God se Woord. Te midde van probleme skryf Paulus aan Timoteus: Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo (2 Timoteus 3:14). Deur tyd in God se Woord te spandeer, kry jy duidelikheid en Goddelike wysheid . Hierdie wysheid sal jou volgende stappe bepaal.

3. Bid ernstig

Jy moet wysheid in God se woord soek, maar jy moet ook ernstig bid. Bid gedurig (1 Tessalonisense 5:17). Soms raak ons ongeduldig en vergeet ons om te bid. Charles Spurgeon het gesê dat gebed “a most sweet and precious permit to the believer to pour out his heart at all times before the Lord” is. Spandeer tyd om God te vra om ons te lei en toe te rus tydens die moeilike tye wat voorlê.

4. Soek Goddelike raad.

God het ons broers en susters in Christus gegee en on moenie hierdie gawe vergeet nie. In die gemeente sal jy wysheid, liefde en bemoediging kry, sowel as Goddelike raad. Sonder goeie beplanning loop alle planne skeef. Goeie raad verseker sukses (Spreuke 15:22).

5. Kommunikeer God se leiding

Moet nooit die belang van kommunikasie onderskat nie. Wat jy doen, moet duidelik en dikwels gekommunikeer word. Om doeltreffend te kommunikeer, mag verskeie metodes en geleenthede vereis. Dit is belangrik, want ‘n gelowige se woorde bemoedig ander en gee hulle moed vir die lewe (Spreuke 12:18).

As ons praat van onverwagte verandering praat ons nie van ‘of´ nie, maar van “wanneer”. Dit sal gebeur. Berei nou jou hart voor. Dit sal jou help dat jy met Goddelike wysheid en genade reageer. Dit sal jou help om ander op te bou.

Vereistes vir verandering

Rick Warren skryf dat as jy veranderinge in die gemeente wil aanbring, moet jy die volgende vraag vir jouself vra: Is ek bereid om die res van my lewe vir hierdie gemeente te gee? Om enige betekenisvolle verandering aan te bring, sal ten minste vyf jaar duur – soms selfs tien jaar. As jy nie gewillig is om die verandering deur te sien nie, moenie verander nie.

Warren sê om die gemeente verlaat terwyl jy besig is met betekenisvolle veranderinge is soos ‘n dokter wat die teater in die middel van ‘n operasie verlaat. Al wat jy doen as jy dit doen, is om dinge deurmekaar te krap.

Wat het jy nodig om permanente veranderinge in die gemeente te maak?

1. Jy moet in die openbaar verklaar dat jy nie die gemeente sal verlaat voordat die veranderinge klaar is nie.

As mense weet jy sal nie die gemeente verlaat nie, sal hulle meer geneë wees om betekenisvolle insette te lewer vir die proses. Warren stel dit so: I’ve noticed that when the pastor leaves, the problems stay, but if the pastor stays, the problems leave.

2. Wees geduldig

As die gemeentegroei die afgelope aantal jare afgeplat het, sal dit nog langer neem om te verander. As ‘n gemeente vir tien jaar nie gegroei het nie, het jy ‘n probleem. As jy as leier geduldig is, kan die gemeente verander. Dit sal nie oornag gebeur nie. Die probleme wat die gemeente ondervind, het nie oornag ontwikkel nie. Wees geduldig. Maak ‘n aantal klein veranderings. Die mense sal dit nie eers agterkom nie. As jy te vining probeer verander, word die lidmate ontsteld en mag dalk nie die program ondersteun nie

3. Maak die pas van verandering stadiger

Warren het vir ‘n loods gevra hoe jy ‘n groot vliegtuig laat draai. Hy sê dat hy ‘n 90 grade draai kan maak, maar die passasiers sal baie ontsteld wees. Selfs ‘n 45 grade draai is erg vir die passasiers. Gewoonlik sal hulle ‘n draai van 30 grade nie eers agterkom nie.

Dit is nie hoe jy begin nie, maar hoe jy klaar maak. Die gemeente sal nie die veranderinge wat jy verlang kry nie tensy jy bereid is om die hele wedloop te hardloop en net as jy geduldig is.


bottom of page