top of page
  • deur Roedolf Botha

Balans maak Jesus naar


Mens hoor dit die hele tyd. Mens moet balans handhaaf, so word daar gepraat. Ons moenie te ernstig oor godsdiens wees nie maar gebalanseerd wees. Ons moet geloof hê maar ook realisties wees. Ons moenie té lief wees vir mense nie want dan kry ons seer. Ons moet versigtig wees om te veel te hoop want netnou word ons teleurgestel. Ons moenie te groot risiko’s neem nie maar dit veilig speel.

Of bogenoemde goeie advies is hang natuurlik af van wat ‘n persoon bedoel met sulke uitsprake. Indien iemand byvoorbeeld bedoel dat mens gebalanseerd moet leef in terme van jou eie lewenstempo deur gereeld te rus ook, dan is dit geheel en al reg. Indien iemand bedoel dat ons nie net hard moet werk nie maar ook die gepaste hoeveelheid tyd moet spandeer aan ons gesinne en naasbestaandes dan is so ‘n bedoeling in die kol. Indien iemand bedoel dat ons moet wys wees in hoe ons liefhet en risiko’s neem dan is dit verstaanbaar.

Indien iemand egter bedoel dat ons ons liefde vir God en mense so bietjie moet laat afkoel sodat ons net bietjie meer normaal voorkom, dan slaan so iemand die spyker geheel en al mis! Indien iemand sou bedoel dat te veel geloof in Jesus sleg is vir jou, dan moet so iemand ernstig geïgnoreer word! Mens kan ook nooit genoeg hoop nie. Paulus sê immers die hoop beskaam nie (Rom 5:5). Die evangelie van Jesus vind juis sy skoonheid en transformerende krag in die ekstreme aard daarvan. Die goeie nuus van Jesus kom slegs tot sy volle reg wanneer dit ýskoud of vúúrwarm is, nie lou nie! G’n wonder dat Jesus vir die gemeente in Laodisea die volgende sê nie (Open 3:15-16):

Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.

Hierdie teks impliseer dat balans nie werk wanneer dit by geloof kom nie. In die grondteks van hierdie gedeelte word daar eintlik gepraat van braak. Jesus sal ons uitbraak wanneer ons lou is! Die implikasie is dat sulke mense wat gedurig lou en in die middel wil leef Jesus skoon siek maak. Daar is ‘n vorm van gebalanseerdheid wees, wat Jesus naar maak! In vers 17 staan daar dat hierdie gemeente een van die min ryk gemeentes was. Jesus bestempel juis hierdie rykdom as deel van hulle probleem: hulle rykdom laat hulle so onafhanklik en selfvoldaan voel dat dit hulle verblind aangaande hulle werklik geestelike toestand. Hulle het so selfstandig en gesofistikeerd geraak dat hulle hulleself uit enige radikale commitment of opofferende daad kan uitredeneer.

En so verloor hulle juis hulle krag en impak. Hulle het lou geraak.

Een van die redes waarom hierdie louheid God naar maak is dat dit ‘n misverstaan en misverteenwoordiging van die kruis van Jesus is. God se kruisdaad in Jesus was allermins ‘n lou handeling! Dit getuig van warm, radikale, selflose en selfopofferende liefde vir ons! Daarom was die kruis as onsin beskou deur die gesofistikeerde Grieke en ‘n aanstoot vir die heilige Jode. Die Grieke het hulleself as te intellektueel gesofistikeerd beskou vir die kruis. Die Jode was weer te godsdienstig gesofistikeerd daarvoor. Gesofistikeerde, gemaksugtige en ryk mense raak nie maklik radikaal nie want hulle het te veel om te verloor! Hulle kan daarom altyd vir jou ‘n slim argument gee vir waarom hulle nie so radikaal hoef te leef nie en waarom God dit nie van hulle sou verwag nie.

Dit behoort ons te laat bid:

Here, mag ek nooit so slim, gesofistikeerd of gemaklik raak soos die Laodisense nie. Moenie dat my lewe ophou om ‘n lewende offer te wees nie!


bottom of page