Wie is ek? Waar kry ek my identiteit?
top of page

Wie is ek? Waar kry ek my identiteit?


Dit is die nuwe in-ding dat mens nou self jou identiteit moet kies, veral jou geslagtelike identiteit. Kinders moet blykbaar van kleins af die geleentheid gebied word om self hieroor te besluit. Gedoriewaar, soos wat my oupa sou sê! Ons as ouers laat ons kinders nie eens toe agter die stuur van ’n motor totdat ons hulle behoorlik geleer het om te bestuur nie. Ook handhaaf ons as volwassenes streng ouderdomsbeperkinge op die films en TV-stories waarna kinders mag kyk. Dieselfde geld vir die verkoop van alkohol aan minderjariges. Maar in dieselfde asem meen sommige grootmense kinders moet nou die reg hê om van vroeg af hul eie identiteit te kies. En om dit aan te pas soos dit hulleself pas.

Hoe dink ons as gelowiges oor identiteit? Wel, as navolgers van Jesus word ons identiteit uitsluitlik deur Hom bepaal. Elkeen wat in Christus glo is ’n nuwe mens, ’n nuwe skepping (2 Korintiërs 5:17). Ons is gekruisigdes (Galasiërs 2:19-20). Ons bely saam met Paulus dat Christus ons lewe is (Filippense 1:21). Alle ander identiteitsmerkers in ons lewe word gerelativeer deur Christus. In Galasiërs 3:27 verduidelik Paulus dit baie duidelik as hy sê dat in Christus is ons nie meer man of vrou, slaaf of vry, Jood of Griek nie. Nee, ons hou nie op om ’n man of vrou te wees nie. Of ’n Jood of Griek, of aan watter volksgroep ons ook al behoort nie. Maar dit is nie meer ons beslissende identiteit nie. Ons is nie iets soos Christen-Jode, of Christen-slawe, of Christen-mans, of Christen-rykes nie - al praat party gelowiges steeds so. Ons is slegs Christene, wat ook al ons beroep, status of geslag. Ons almal is voltydse navolgers van Jesus. Ons almal is ewe belangrik vir die Here. Ons almal se lewe word gedefinieer deur die feit dat Jesus ons geroep het met die woorde: “Volg My!” Ons is voltyds en lewenslank Syne. Die Here sê so. Daarom geld 1 Johannes 3:1 se woorde oor ons almal: “Kyk net watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God. En ons is dit ook!”


bottom of page