Tuinbewoner
top of page

Tuinbewoner


Ons leef vandag in die era van die Heilige Gees. Ons tel onder die gelukkiges wat die groot impak van sy krag in ons lewens kan ervaar. Die Gees is immers op ’n baie spesiale wyse aanwesig by almal wat in Jesus glo. Om dit te verstaan, gaan ons vir ‘n paar dae saam kyk na al God se “aardse adresse,” van doer van die begin van die skepping af tot op hede. Natuurlik is hierdie slegs ‘n beeld waarmee ons werk (met sekere beperkings). Maar hierdie beeld kan ons dalk net nog beter help om iets van God se absolute nabyheid aan ons almal te begryp.

God se eerste aardse straatadres was die tuin in die paradys. Daar het Hy in die namiddag met sy eerste mensepaar gaan wandel. Hulle was die hoogtepunt van sy skepping. Daarom dat Hy so opgewonde was om saam met hulle te loop. Van loop gepraat- God moes ook leer loop. Tot nou toe het Hy teen ewigheidspoed geleef. Maar ten einde met sy handewerke te praat, het Hy spoed verminder na loopspoed.

Hoe tragies dat God se eerste mense nie saam met Hom wou loop nie. Hulle wou eerder sy troon vir hulleself hê. Daarom dat God moes trek uit sy eerste aardse adres. Maar die goeie nuus is dat God ook loop om naby aan ons te wees. Hy hardloop nooit onder jou en my uit nie.

Gebed

Here, loop asseblief vandag saam met my. In Jesus se Naam. Amen.


bottom of page