top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Om gesíén te word


Om werklik deur mense raakgesien te word is ‘n wonderlike ding. Dink aan die manier wat die Zoeloes mekaar groet: Sawubona – ek sien jou! Erkenning is ‘n basiese emosionele behoefte by alle mense. Daarom dat – waar elke mens gesien of gehoor voel – daar gewoonlik goeie, gesonde en hoopvolle verhoudings heers.

In die nuutste DC-fliek, The Joker, wat tans in teaters draai, sien ons egter wat gebeur wanneer die omgekeerde plaasvind. Die prent speel af in die Batman-wêreld van die DC comics-genre, destyds geskep deur Bob Kane. Die Batman-karakter speel egter byna geen rol in die fliek nie en die storie verduidelik eerder hoe dit gebeur het dat die euwel karakter van die Joker ontwikkel het, een van die mees populêre superhero villains in die comics-wêreld.

The Joker vertel die storie van Arthur Fleck, ‘n gewone goeie mens wat ‘n traumatiese lewe het. Hy voer ‘n sukkelbestaan as ‘n komediant maar beleef totale verwerping omdat niemand dink hy is snaaks nie. Niemand gee enige aandag aan hom nie. Een van die hooftemas in die fliek is gevolglik die realiteit van ‘n siek samelewing wat randfigure so ignoreer en misken dat hulle onsigbaar voel in die oë van die leiers, rykes en magtiges van die gemeenskap. Arthur Fleck probeer hard om raakgesien te word en net ‘n stukkie erkenning van die samelewing te ontvang. Hy word eenvoudig deur niemand raakgesien nie en wanneer hy wel aandag kry is dit veel eerder bespotting en vernedering wat hy beleef. Hierdie voortdurende spot wat hy moet verduur, te same met sy gevoel van onsigbaarheid, dryf hom uiteindelik tot waansin. Sy breekpunt word bereik toe hy agterkom dat hy ‘n aangenome kind is. Dié teleurstelling was eenvoudig een te veel vir hom en hy vermoor toe sy ma, wat hom dit nooit vertel het nie. Laasgenoemde sit toe ‘n hele klomp gebeure aan die gang waardeur Fleck homself intensioneel begin posisioneer teen die sisteme van die samelewing. Hy word die Joker, ‘n euwel simbool van anargie en chaos wat moor en plunder in ‘n poging om beide raakgesien te word, sowel as om die orde in die wêreld te destabiliseer.

Om vir ‘n onbepaalde tyd nie raakgesien te word nie, kan sieldodend wees vir enige iemand se selfverstaan. Vir iemand om geen erkenning te kry nie, geen plek in die samelewing te vind nie, kan uiters gevaarlik wees. Ons is nie gemaak om onsigbaar te wees nie en elke persoon het ‘n breekpunt. Op ‘n stadium sê Arthur Fleck, wat aanvanklik goeie intensies gehad het:

I don’t believe in anything anymore.

Sy onsigbaarheid lei tot ongeloof in enige iets goed en die eindresultaat was moord en chaos.

Dis waarom Jesus-volgelinge sieners moet wees. Ons moet die eenvoudigste mense raaksien. Dit het my laat wonder hoeveel kere ek al mense onsigbaar laat voel het: die persoon by die verkeerslig met die bordjie om die nek; die persoon wat ons tuin maak; iemand wat die gemeente of besigheid se vloere vee; die kelner wat my kos bedien; my vrou of kinders?

In teenstelling hiermee weerklink my Zoeloe-vriende se groetgewoonte: sawubona – ek sien jou!

En dan waai die lewe van Jesus soos ‘n warrelwind deur my gewete. Jesus het die onsigbare mense sigbaar gemaak. Hy was die Meester-Siener! Hy het mense wérklik raakgesien. Hy síén die melaatse, raak hom aan en genees hom. Hy síén die sondaars en vergeef hulle. Hy síén die kinders en nooi hulle na Homself. Hy síén die onsigbare vrou wat aan bloedvloeiing ly en raak haar aan. Hy síén die arm vroutjie wat haar twee muntjies in die tempel se offerkis gooi en prys haar. Hy síén eenvoudige vissers, sluit hulle in en maak hulle die leiers in sy koninkryk.

Jesus weet hoe gevaarlik die konstante gevoel van onsigbaarheid op enige mens se menswaardigheid het daarom het Hy ‘n sawubona lewenstyl gehad. Dis die lewenstyl wat Hy aan ons wil oordra. Dis een van die primêre maniere waarop ons sy koninkryk laat kom. In God se koninkryk word elke mens gesíén! So genees Hy die wêreld. Jesus kýk ons gesond! Elke persoon wat aan God behoort is getel. Dis waarvan die honderd-vier-en-veertig duisend in Openbaring getuig. Niemand wat aan God behoort, sal ooit verlore raak in ‘n gesiglose skare nie. Jesus leer ons om die minstes raak te sien, sodat hulle nie nodig het om nargesigte te verf, teen die wêreld te draai en in Jokers te ontaard nie.

Dís Jesus se woorde aan ons en aan die wêreld:

Sawubona – ek sien jou... volg My!


bottom of page