Ambisie
top of page

Ambisie


Ambisie is volgens die woordeboek ‘n sterk begeerte om iets te doen of te bereik. Hierdie begeerte kan egter baie maklik in ‘n obsessie verander waar my verhouding met God en met die mense om my kan skade ly. Dan kom daar baie maklik ‘n ander dimensie by: jaloesie, waar ek begeer wat ander het, en dink dit kom my toe. So het ek jare gelede met die ambisie geloop om te kan skilder, om sommer net ‘n fraai bossie laventeltakkies te kan skilder. Toe ek sien hoedat ‘n vriendin dit so maklik regkry, het die gevoelens van ontevredenheid hier binne gegroei en ek met die monster van jaloesie begin worstel. Die feit dat ek “verplig” gevoel het om die paar uur wat ek toe op ‘n dag vir my kuns opsy gesit het, te gebruik om ‘n jong vriendin in haar hartseer by te staan, het gevaarlik na aan tydmors gevoel!

En toe kom die ware perspektief: Ek het in daardie paar uur ‘n “bossie laventel” geskep wat ewigheidswaarde het. Die jong vrou het nuwe perspektief op en nuwe hoop vir haar spartelende huwelik gekry – en die Here het ‘n paar jaar later vir my bederf met ‘n seisoen van na hartelus te kan skilder.

Dit was ‘n duidelike les dat selfsugtige ambisie eintlik vermomde hebsug is, dat dit wyser is om te soek na die spesiale doel wat God met my gawes en talente, met my lewe, het.

As enigeen van julle my dissipel wil word, moet jy jou selfsugtige ambisie aflê, elke dag jou kruis opneem en My volg. Lukas 9:23


bottom of page