top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Jesus het ons nie gekies op grond van ons goeie CV nie


Wenners maak saak. Eersteplekke tel die meeste. Kyk maar na die afgelope naweek se rugby. Nou ja, almal kan nie met die beker wegloop nie. Daarom is daar altyd meer tweedekommers, derdekommers en verloorders as wenners in die lewe. Ons almal ken hierdie gevoel. Iewers langs die pad gebeur dit met ons elkeen - ons loop dalk ons gunsteling werk mis. Ons verloor ‘n sleutelwedstryd. Ons haal nie die paal in een of ander kompetisie nie. Soms is ons gemiddeld. Ander kere is ons middelmatig. Of sommer net pleinweg “useless.” Dan voel dit asof ons in almal se pad staan.

Wel hier’s die ding: Christus blink uit met nuttelose mense. Dit is presies waar Hy elke slag begin wanneer Hy mense roep om Hom te volg. Jesus het nie een van ons uitgekies uit ‘n katalogus van voortreflike godsdienstige presteerders nie. Of omdat ons altyd wen in alles wat ons aanpak nie. Nooit het Hy ons CV aangevra en toe die beste kandidaat gekies nie. Inteendeel, Jesus het ons gevat toe ons weerloos en swak was. Hy het ons opgesoek toe ons ver van Hom af was. Hoeveel te meer sal die Here nie nou alles vir ons gee om tot Sy eer te leef nie (Romeine 5:8-10).

Jesus spesialiseer in opgraderings. Hy maak nuttelose mense nuttig. Hy verander middelmatiges in bruikbare instrumente in Sy hand. Hy verander ons vanaf “use-less” na “use-full.” Dit is genade. Dit vertel hoe lief die Here doodgewone mense soos ons het. Daarom dat ons graag vir Hom wil leef. Ons kan nie anders as om oor en oor koers te kies agter ons Heer aan nie. In sy nabyheid leef ons en groei ons. In die Here se hand het ons elkeen baie groot waarde.


bottom of page