Gevul met die regte Inhoud
top of page

Gevul met die regte Inhoud


Ons almal is vol van iets. Dikwels is dit net onsself. Tragies, maar ons is soms veels te vol van onsself. Die geheim is dat ons eerder vol van God se Gees moet wees. Dan is ons lewe vol met die regte Inhoud. Die Gees is immers Goddelike hoë-oktaan. Hy is lewensbrandstof. Die Gees gee hoëvlak lewe en energie. Daarom dat Hy ons lewe moet vul, nie onsself met al ons selfsugtige begeertes en behoeftes nie.

Jesus was deurentyd oorvol met die Gees toe Hy op aarde was. Daarom dat Hy triomfantelik vanuit die woestyn kon terugkeer. Satan het voor Hom gewyk. Satan is onseremonieël deur Jesus uitgeknikker en verwilder. Drie rondtes was al wat die heelal kampioen nodig gehad het om die Bose finaal te laat besef in wie se hande alle mag in hemel en op aarde is. Na hierdie oorwinning van Jesus onder die moeilikste omstandighede denkbaar en met van die mees aanloklike versoekings ooit, het Hy die wêreld met God se asemrowende redding en genade getref. Toe het die sluise van die hemel behoorlik oopgemaak.

Wil jy jouself nie vandag oopstel vir die Gees se vervulling nie. Laat jou eie leegheid sy geleentheid tot volheid wees! Laat Hy jou van hoek tot wal vul met sy krag en liefde en selfbeheersing. Laat die Gees vandag jou lewe oorstroom

Gebed

Vul my Gees van die lewende Here. Maak my lewe met Uself vol. Amen


bottom of page