Waagmoed
top of page

Waagmoed


In die VK is Bear Grylls die verpersoonliking van avontuur, oorlewing en waagmoed – voorwaar ‘n dapper man. Net so dapper is ‘n man wat sy vervreemde vrou gaan vertroos nadat haar eks-minnaar haar verlaat het.

Omdat die wêreld se manier van “sny af daardie persoon” en “ek is geregtig op geluk, daarom gaan ek skei,” so maklik klink, vergeet ons dat Paulus ons waarsku dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar dat dit ‘n geestelike stryd is – ‘n stryd teen die vyand wat veral Christen-huwelike wil vernietig. Wanneer ek dit in gedagte hou, sal ek Nehemia se raad volg: “Veg vir julle vriende, families en julle huise!” (Nehemia 4:14b Nuwe Lewende Vertaling)

Ek hoef nie die wêreld se uitweg as ‘n oplossing te probeer aanwend nie – die Here gee in sy Woord vir ons waardevolle raad in ons krisisse. Saam met die voorreg om ‘n kind van God te wees kom ook die verantwoordelikheid om Hom te eer deur sy wapens in my stryd aan te wend, nl. Vergifnis en onvoorwaardelike liefde. Maar dis so maklik om toe te laat dat my teleurstelling in my lewensmaat / kind / ouers / vriende / iemand na aan my, groei tot gegriefdheid. Wanneer ek ‘n wrok koester oor seerkry in die verlede, begin bitterheid in my gis en groei en lei tot jaloesie, verdeeldheid en so maklik tot onwyse, sondige gedrag. In my eie stryd om vervulling en erkenning sien ek nie geleenthede raak waar God my wil gebruik om vir hierdie persoon te wys hoe spesiaal hy/sy vir Hom is nie.

Wanneer ek egter die Heilige Gees vra om beheer van my lewe te neem, kom Hy en genees die seer en teleurstelling wat kon groei tot bitterheid. God verander nie, Hy bly getrou, Hy maak nie foute nie – en Hy kyk met geduldige liefde na my én na hierdie “naaste” van my wat my so irriteer, my so teleurstel. Wie is ek dan om te weier om ‘n Jesus-gesindheid teenoor hierdie persoon wat my verontreg het, te openbaar?

Elke belydende Christen leef eintlik in ‘n glaskas, soos wat die nota in ons gasteboek my herinner het: “Julle voorbeeld het vir my gewys hoe ‘n huwelik moet lyk.” Hierdie gas was nie die vorige week by toe my stilstuipe allesbehalwe die Here se beeld uitgedra het nie! Dis daarom belangrik dat ek en jy wat dit waag om Christus se Naam te dra, Sy magtige wapens van gebed, geloof, hoop, liefde, sy Woord, die Heilige Gees opneem. Ons wapens vir aanval en verdediging is tog nie ‘n stortvloed van aanvallende woorde of selfs regstappe nie, maar om die wil van God te doen – kragtig en effektief.

The only thing that counts, is faith expressing itself through love. Gal 5:6b NIV Hiervoor is inderdaad waagmoed nodig!


bottom of page