Laksman

October 22, 2019

My eie voetstappe klink ritmies op vanaf die sementblad. Van anderkant die opslaan-klaskamers gil kinders opgewonde oor ʼn tennisbal wat iewers galmend in ʼn metaalgeut beland. Twee graad 7 dogters tuur by die grensdraad in die straat af, asof hulle die afgelope naweek nog van daar af vir oulaas kan aanskou. Hier en daar sit ʼn verdwaalde enkeling onder die bloekombome en wag dat die skoolklok die begin van Maandagoggend inlui.

 

En wanneer die klok lui, spat almal in honderde rigtings, gillend, asof die klok die grootste verrassing ooit kon wees.

 

Agter my hoor ek die draaihek laat nog ʼn laatkommertjie binne. Háár voete trippel vrolik. “Tot siens, Prinses,” roep die man by die hek. Hy staan half magteloos anderkant die heining en kyk hoe sy naweek saam met sy kind finaal om die hoek gaan verdwyn.

 

So in die gehuppel draai Prinses om en waai ʼn soen vir haar pa. Die een helfte van sy mond glimlag. Haar boksterte bons vrolik op en af tot sy tussen die ander kinders verdwyn, op pad rye toe. Stadig draai die man om en stap kop onderstebo motor toe. Hy lyk wel tevrede dat sy veilig en gelukkig is, al is dit dan so effens namens hom ook.

 

By die huis kry die potplante onder die manatok gou water. Sy witgoud-blomme het die bankie onder sy takke feestelik besprinkel. Die seringboom langsaan ruik nog sterk na pers laat-lente. Tussen die wind, tarentale en vinke hoor ek skielik ʼn kortstondige “tjirp” wat ek nie herken nie. Ek kyk op. In die takke van die manatok sit ʼn kuiken opgepof in ʼn tennisbal-vorm. Net sy bek en V-stert breek die patroon. Die merkies op sy vere, wat nog soos oorgroot jeans aan hom sit, lyk amper asof hy ʼn hoep-hoep kan wees.

 

My asem stol wanneer ʼn groot laksman skielik bitter naby aan die kuiken kom sit. Iets is vreemd aan sy gedrag. Hy hou nie die prooi dop nie – maar vir my. Met sy kop skuinsgedraai, sien ek die wriemelende wurm in sy bek.

 

ʼn Tweede laksman daag op, ook met ʼn gogga.

 

Ek loer weer na die kuiken. Hy spring ewe nader aan die groter laksman. Sy pa. En dus is dit geen hoep-hoep nie, maar ʼn baba-laksman wie se kos vir hom aangedra word. Hy kyk ook af na my, wip op ʼn ander tak en vergeet dan van my. Want dis etenstyd.

 

Die prinses met die bokstert en die laksman-kuiken het ʼn saak met Maandag. Want Iemand anders sorg.

 

Meteens is die harwar van 2019 se einde en 2020 se begin minder dreigend.

 

Please reload

ONLANGSE ARTIKELS

November 15, 2019

November 12, 2019

November 6, 2019

November 5, 2019

Please reload

AFDELINGS & SKRYWERS
LEES SOORTGELYKE ARTIKELS
Please reload

© 2019 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: