Doen iets vir die Here as jy weer bid
top of page

Doen iets vir die Here as jy weer bid


Iewers skryf Burton Hillis die volgende: “Most of us wait until we're in trouble, and then we pray like the dickens. Wonder what would happen if, some morning, we'd wake up and say, "Anything I can do for You today, Lord?” Ek dink die engele moet partykeer moedeloos wees verby oor ons gebede. Die meeste van ons gebede voor God gaan net oor “gee, gee gee…” Of “doen, doen, doen…” Enigiets vanaf publieke gebede, tot gebede voor etes, tot persoonlike gebede wemel van versoeke en opdragte aan die Here. Maar hoe min kere sê ons net dankie. Nog minder kere sê ons sommer net: “Wat kan ons vandag vir U doen, Here?” Of: “Vandag gaan dit nie oor myself en al my versoeke nie, maar oor U!” Dink net wat sal gebeur as ons elke dag so kan bid.

“Maar mag ons dan nie dinge van die Here vra en ons en ander mense se probleme voor die Here se voete neerlê en vra dat Hy sal help nie?” wonder jy dalk. Ja, ons mag. So leer Jesus ons in Matteus 7:7. Die probleem is agter dat dit omtrent al is wat meeste mense onder gebed verstaan. Hulle bid net wanneer hulle iets van God nodig het. Of wanneer Hy moet help en ingryp.

Die Here weet wat ons nodig het. So leer Jesus ons ook in Matteus 6:8. Ons hoef Hom nie gedurig hieraan te herinner nie. Hy weet in elk geval baie beter as onsself wat dit is. Daarom kan ons gerus een dag afvat wat ons eie versoeke betref as ons bid. (Of dalk twee!) Ons kan vandag net tot rus kom by die Here. Ons kan ophou om dinge te vra en sommer net dankie sê. Ons kan die Here se Naam eer sonder om nogmaals iets te wil hê van Hom. Ons kan iets vir die Here doen as ons bid. “Anything I can do for You today, Lord?” Waag dit!


bottom of page