Leier Nuusbrief - Oktober 2019 - Deel 2
top of page

Leier Nuusbrief - Oktober 2019 - Deel 2


Vereistes vir leiers

As gemeenteleier wil jy graag deur God gebruik word. As ‘n leier van leiers wil jy graag ander help sodat hulle bruikbaar vir God sal wees. Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op hom vertrou (2 Kronieke 16:9).

Die Bybel leer vir ons vyf vereistes om deur God gebruik te word:

1. Hou jou lewe skoon

Die eerste stap is altyd persoonlike ondersoek. Iemand wat deur God gebruik word, het die sonde in hulle persoonlike lewe hanteer deur dit aan God te bely. God gebruik, klein, groot en selfs gebreekte houers, maar Hy sal nie ‘n vuil houer gebruik nie: Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal die buitekant ook skoon wees (Matteus:23:26).

2. Hou jou oë oop

‘n Woord wat leiers dikwels misverstaan is die woord visie. Ons dink visie beteken dat ons die toekoms kan voorspel, maar niemand ken die toekoms soos God dit ken nie. Visie is om God aan die werk te sien in ons huidige situasie en dan saam met Hom te beweeg. Jy moet deel word van wat God besig is om op aarde te doen net daar waar jy is. Soos die psalmis sê: Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid (Psalm 105:4).

3. Jy moet ‘n dankbare hart hê

God gebruik dankbare mense. Dankbare mense hou langer vol, want hulle fokus op God se voorsiening, eerder as op hulle probleme. Geneeshere sê dat dankbaarheid die gesondste van alle emosies is as gevolg van sy fisiese en sielkundige voordele. As jy nie dankbaar is nie, word jy sinies Paulus sê: Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here (Romeine 12:11). Ons moet onsself voortdurend daaraan herinner dat dit ‘n voorreg is om Jesus te dien. Moet nooit die dinge wat God in, om, en deur ons doen as vanselfsprekend aanvaar nie.

4. Hou vas aan jou doel

Jy is deel van God se familie en gemaak om soos Christus te wees. Jy is gemaak vir ‘n spesifieke doel. En volgens die besluit van God het Dawid tog gesterwe nadat hy die mense van sy tyd gedien het (Handelinge 13;36). Voldoen aan God se doel vir jou lewe.

5. Hou jou gedagtes op Jesus gerig

Hou jou oë op Jesus. Dan sal jy die wedloop goed begin en voleindig. Jesus het sy oë op God gerig gehou, want Hy het geweet waarheen Hy op pad was – daarom kon Hy alle struikelblokke langs die pad hanteer. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God (Hebreërs 12:2). God se doel vir jou lewe is groter as jou probleme. Moenie tou opgooi as dinge moeilik word nie. Hou jou gedagtes op Hom gerig.

Soorte mense in elke gemeente

Daar is veral drie soorte mense wat ons in elke gemeente kry.

  • Diegene wat energie gee – hulle teenwoordigheid laat ons beter voel en vul ons tenk;

  • Die gemiddelde mense – hulle mag ons dalk nie laat beter voel nie, maar demoraliseer ons ook nie; en

  • Die dreineerders – hulle tap ons energie en vreugde; hulle kan ons dag ruïneer.

Die groot verskil tussen dié wat energie gee en die dreineerders is hulle verwagtings van ons. Dié wat energie gee het nie groot verwagtings van ons nie. Die dreineerders het groot verwagtings - of ons prediking of organisasie of leierskap of beskikbaarheid of berading is nie goed genoeg nie. Hierdie subtiele verwagtings mag dalk nie openlik uitgespreek word nie, maar as ons met hulle is, voel ons hulle onuitgesproke afkeuring aan.

Hoe het Jesus teenoor hierdie dreineerders gereageer:

  1. Jesus het teruggetrek om Homself te verfris en God te soek. Hy het gereeld hernuwing gesoek.

  2. Jesus het sy dreineerders met diegene wat energie gee gebalanseer.

  3. Jesus het nie toegelaat dat die dreineerders Hom van sy plan of doelwitte laat afsien nie.

Alhoewel Jesus ‘n ritme van hernuwing en onttrekking gevolg het, het Hy nooit volledig van hulle ontslae geraak nie. Ons moet hulle ook aanvaar. Nie almal het van Jesus gehou nie; nie almal sal van die leiers in die gemeente hou nie. God se genade gee aan ons die vermoë om selfs die uitputtende dreineerders te hanteer.

Lewensdoelwitte vir leiers

Zig Ziglar vertel die storie van vlooie in ‘n vles met ‘n deksel op. Hulle vlieg desperaat teen die deksel vas in ‘n poging om te ontsnap. Dit duur ongeveer 20 minute. Nou is hulle ten volle oortuig dat hulle nie kan ontsnap nie. Jy kan die deksel verwyder, maar hulle sterf van die honger in die vles. Hulle het probeer ontsnap en glo nou dat hulle geen ander opsie het nie.

Net so is daar baie mense wat grense stel vir wat hulle kan bereik. Die grense is net in hulle gedagtes. Jy kan deur hierdie grens breek as jy vir jou persoonlike doelwitte stel. Stel jy vir jouself doelwitte? Doelwitte het ‘n begin- en eindpunt Dit is die maklikste manier om betekenisvolle rigting aan jou lewe te gee. Dit stel jou vry om jou talente ten volle te gebruik.

Stel doelwitte vir 5 jaar - wat het jy vandag nodig om oor 5 jaar te wees waar jy graag wil wees. Wees spesifiek, stel meetbare mylpale wat bereik moet word. Dit is om vas te stel of jy suksesvol is. Leiers het sewe gebiede waarin hulle doelwitte moet stel:

1. Fisiese gesondheid, voorkoms en oefening

Oefen jy gereeld? Leef jy ‘n gebalanseerde lewe? Is dit ‘n gebied wat meer tyd vereis? Kan jy jouself 30 minute elke dag gee om te ontspan? Fisiese oefening is ‘n proses wat jou kreatiwiteit dramaties kan verhoog. Meeste seëninge is moeilik om te geniet as jou gesondheid swak is.

2. Finansieel: inkomste en beleggings

hoeveel geld wil jy oor 5 jaar in die bank of in beleggings hê? As jy dit nie kan droom nie, sal dit nie gebeur nie. Niks is onrealisties as jy ‘n duidelike plan het nie.

3. Persoonlike ontwikkeling: kennis, opleiding en selfverbetering

Jou sukses, finansieel en andersins, sal nooit beter wees as jou persoonlike ontwikkeling nie. Begin iets doen wat jy nog nie gedoen het nie, want jy was bang vir mislukking. Leer ‘n nuwe taal. Hoeveel boeke gaan jy hierdie jaar lees? “Knowledge by definition makes itself obsolete.” (Peter Drucker). Jy kan net ‘n leier in vandag se omgewing wat die hele tyd verander wees as jy ‘n leerder is en bly. Jou opvoeding is nie klaar as jy jou studies aan ‘n kollege of Universiteit voltooi het nie. Mense spandeer baie tyd in hulle motors. Luister na oudio-boeke en potgooie en verander so jou sukses.

4. Verhoudings: familie en ander en die ontwikkeling van kinders

“Whatever the era, whatever the times, one thing will never change: fathers and mothers, if you have children, they must come first. You must read to your children and you must hug your children and you must love your children. Your success as a family, our success as a society, depends not on what happens in the White House, but on what happens inside your house.” (Barbara Bush).

Die tweede wet van termodinamika is dat dinge wat aan hulle self oorgelaat word, agteruitgaan. Goeie verhoudings gebeur nie sommer vanself nie. Jy moet deposito’s maak vir die sukses wat jy wil hê. Hoeveel tyd gaan jy met familie en vriende spandeer. As jy ‘n beter moeder, vader of eggenoot wil wees, definieer wat ‘beter” is.

5. Geestelik: betrokkenheid by die gemeente, persoonlike toewyding en Bybelstudie.

Leef jy God se doel vir jou lewe uit? Hoe het jy vanjaar ‘n krisis hanteer? Hoe sal jy onthou word? Verander negatiewe gesindhede. Vra vergifnis. Herstel dinge met mense wat jy moet vergewe. Kies iemand vir wie jy omgee en wees vir hom ‘n mentor. Werk aan hierdie verhouding. Begin vandag.

6. Beroep: ambisie, drome en hoop

7. Bediening

Hoe wil jy groei en ontwikkel in jou bediening oor die volgende vyf jaar? Verheug jy jou in jou bediening soos die Skrif jou aanmoedig om te doen? God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde doen. Dit is ‘n gawe van God (Prediker 5 :18).

Hierdie sewe gebiede is ‘n integrale eenheid. Waar is God besig om vir jou te roep en nuwe doelwitte te stel om Hom te verheerlik?


bottom of page