Helde wat inspireer
top of page

Helde wat inspireer


Die Bybel leer ons om nie op prinse te vertrou nie. Tog is dit darem lekker om so dan en wan ‘n persoon raak te loop wat ons herinner aan die soort van mens wat ons elkeen kán wees. Hugo Tempelman is so ‘n persoon. Hy is ‘n nuwe byvoegsel by die poel van helde wat my wêreld verbreed en wat my help om groot te droom vir die Here hier aan die suidpunt van Afrika.

Maar wie is Hugo Tempelman? Hy is die CEO van die Ndlovu Care Group wat ook sit agter die Ndlovu Jeugkoor wat onlangs tweede plek behaal het in America’s Got Talent. Tempelman is ‘n Nederlander wat die gemak van sy eie Eerste Wêreldland opgegee het byna dertig jaar gelede om ‘n verskil te kom maak in Suid-Afrika. Terwyl ander mense uit Suid-Afrika na beter weivelde emigreer, immigreer hy toe sommer hierna ons toe. In die Groblersdal omgewing ontdek hy toe ‘n gemeenskap van wanhopige, moedelose en armoedige Suid-Afrikaners en hy gee sy lewe vir hulle met die boodskap dat hy juis níé sy lewe in ‘n Westerse land wil “mors” nie. Nee, hy wil sy lewe vir Afrika gee! Hy wil Afrika se mense sy eie mense maak!

Vandag is die Ndlovu gemeenskap ‘n lewegewende beweging van hoop vir baie in Suid-Afrika. Die verskil wat Tempelman in hierdie mense se lewens gemaak het die afgelope paar jaar is asemrowend. Op die gebied van die mediese, die kuns, die opvoeding en musiek het hy hierdie gemeenskap opgelig en hoop gegee terwyl daar bitter min hoop te vinde was. Meer as vierduisend kinders put vandag voordeel uit die welsynspogings van hierdie stigting. Vandag is hy ‘n aanvaarde en geliefde deel van die gemeenskap, ‘n mentor vir almal, wat genooi word na al wat ‘n geboorte of begrafnis is! Hy praat al redelik Zoeloe en verskuif berge in terme van gemeenskapsopheffing. ’n Professionele koor van agt-en veertig lede het tot stand gekom wat hierdie jaar deur die VSA getoer het en deelgeneem het aan die gesogte America’s Got Talent. Hulle het die wêreld betower met hulle Afrika-liedere en veel kleurige kleredrag. Die verskil wat een mens kan maak slaan telkens my asem weg.

Maar dit was nie altyd so nie. Tempelman vertel hoe dat hy in die begin jare letterlik verskeie kere moes koes vir koeëls wat op hom afgevuur word, dreigemente van dele van die gemeenskap af wat nie hierdie vreemdeling so na aan hulle wou hê nie. Hy het aan verskeie gesprekke deelgeneem waar daar ‘n geweer teen sy kop gehou was! Verskeie van sy eie karre was al gesteel in ‘n poging om hom moedeloos te maak en hom te laat oppak. Tempelman is egter nie iemand wat sommer afgesit word nie. Hy verduidelik waarom hulle hierdie welsynsprojek Ndlovu noem. Ndlovu beteken olifant, en olifante, meen Tempelman, het dik velle!

Wat my egter aan die hart geruk was die naam wat hierdie Afrika-gemeenskap aan Tempelman toegedig het. Hulle het hom gedoop Hlanganani. Dit beteken hy wat mense bymekaar bring. Wat ‘n simbool van liefde en hoop!

Die naam het my so laat dink aan wat Paulus skryf in 2 Korintiërs 5: 18:

Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.

Versoeners is mense wat ander mense saambring, bymekaar bring in die Naam van Jesus.

Mag Ndlovu ook Jesus-volgelinge se erflating in Suid-Afrika wees: hulle wat nie skrik vir die probleme van Afrika nie; hulle met dik velle - hulle wat mense bymekaar bring!


bottom of page