God is meer as wat ons van Hom weet, maar Hy is nie anders nie
top of page

God is meer as wat ons van Hom weet, maar Hy is nie anders nie


Die skrywer van Spreuke 30:18-19 sê daar’s drie, nee vier dinge wat hy nie so mooi verstaan nie. Hy wonder onder andere hoe ‘n arend in die lug bly, en ook hoe ‘n slang op ‘n rots seil. Ek wonder ook oor ‘n paar snaakse dinge in die lewe, soos hoekom moet mense stilbly as ‘n tennisspeler afslaan, maar hoekom moet raas hulle as sokkerspelers die bal skop. Feit is, die lewe is propvol onverstaanbare dinge. Ons kan nooit alles verstaan nie. Ons kan die Here ook nie deurgrond nie. Ons moet nie eens probeer nie, want dan het ons eintlik vir onsself ‘n afgod geskep. ‘n God wat ons hier aan ons kant van die draad volledig kan verstaan, is ‘n god wat onsself kan beheer en manipuleer. Die lewende God is eindeloos groter en meer as alles wat ons van Hom weet. Nogtans is Hy nie anders as hoe Hy Homself in sy Woord bekendmaak nie. Hy is altyd die God van liefde. Hy is altyd die God van genade wat Hom in Christus aan ons openbaar. Die kruis onderstreep wie God is op ‘n tydlose manier. Die kruis vertel dat God ons red en liefhet (1 Tessalonisense 1:9-10).


bottom of page