Kinders in die spervuur
top of page

Kinders in die spervuur


Vroeër vanjaar was die hele land stom van verbasing oor SARS IT-baas, Mmamathe Makhekhe-Mokhuane, se onsamehangende woorde: “Ma’am, can you give me protection from yourself?”

Nou die dag het die plaaslike hoërskool ʼn matriekmeisie gestraf nadat sy positief vir dagga getoets het.

Die pa het weer en weer beklemtoon dat hy die gedrag goedkeur en die dogter nié ʼn probleem het nie en die honderde kommentators op sosiale media het hom volledig en met die gewone gif teenoor die skool ondersteun. Natuurlik op grond van die berugte dagga-uitspraak deur die Konstitusionele Hof.

Om terug te kom by my eerste paragraaf: “Parent, could you please give your child protection from yourself?”

Ek kan nie begin om te verduidelik op watter massiewe skaal skole die afgelope paar jare die opvoedingstaak van ouers moes oorneem nie. Die statistieke van ouers wat eerder die skool aanvat as om oor die kind se negatiewe gedrag bekommerd te wees, is skrikwekkend.

Dit is ʼn teken van ons tyd en maak my meer bekommerd as enigiets anders op hierdie aarde.

ʼn Groot aantal van die kwesbaarste, mees beïnvloedbare lede van ons samelewing, die wat nog gebuig moet word tot sosiaal-aanvaarbare volwassenes wat ʼn positiewe verskil kan maak, word oor en oor misvorm deur hul ouers. Kinders word in hierdie verwronge wêreld op minder opsigtelike maniere mishandel en verwaarloos: Hulle kry geen liefde, teregwysing, positiewe hulp en ondersteuning waar nodig nie, maar eerder ʼn verdraaide, negatiewe beeld van wat hulle uiteindelik in wasdom moet aanhang en glo en hoe hulle moet optree.

Die Here God en sy voorskrifte is afwesig in meer huise as wat ons onsself kan indink (ek wil sover gaan as om te sê selfs in heelparty sogenaamde Christen-huise). Dissipline is by die agterdeur uit, ouers wil eerder hul kinders se beste vriende wees en menige ouerhuis is nie meer ʼn veilige plek van bewaring en liefde nie.

Elke kind wat op aarde gebore word, het die wonderlike potensiaal om op te groei tot volwassenes wat die Here dien en wat weer ʼn positiewe, daadwerklike verskil in ons land en hul eie kinders en ander se lewens kan maak. Elke liewe een.

Leser, ons bid elke dag, behalwe vir privaat-sake, ook vir beskerming teen liggaamlike nadeel en dood, misdaad, korrupsie, armoede, droogte, wreedheid, die heidene en ʼn magdom ander baie, baie belangrike sake.

Maar bid ons vir ons kinders as ʼn groep? Bid ons dat God sal ingryp waar ouers (en die gemeenskap) faal? Kinders kan doodeenvoudig nie vanself heel anderkant uitkom nie! Volwassenes buig die takke en is op die ou einde verantwoordelik vir die vorm en gesondheid van die boom. Nét God kan werklik ingryp. Die kind kan nie self die hand of voet afkap of die oog uitruk nie.

En besef ons werklik die geweldige impak van Jesus se woorde?

“Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met 'n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink. Hoe jammer tog vir die wêreld dat daar dinge is wat die mens afvallig maak! Sulke dinge kom noodwendig, maar wee die mens deur wie dit kom.”


bottom of page