Versprei jy 'n lieflike geur of is jy 'n slikdam
top of page

Versprei jy 'n lieflike geur of is jy 'n slikdam


Ons doen graag op Saterdae 'n parkrun. In die lente en somer doen ons graag die parkrun op 'n pragtige roosplaas naby Pretoria. Wat 'n wonderlike gesig van al die verskillende kleure rose - 'n fees vir die oog. Dit is heerlik om die swaar reuk van rose in te asem terwyl jy draf. Op hierdie roete is daar egter ook 'n slikdam, wat nie so lekker ruik nie. Daar hou jy asem op en sien uit daarna om weer langs die welriekende rose te draf.

'n Vriendin van my groet elke oggend voor skool haar laerskoolseuntjie met die woorde: "Onthou om 'n lieflike geur te versprei!" Ons lees hiervan in 2 Korintiërs 2:15: "Ons is die welriekende geur wat deur Christus vir God opstyg". Wat 'n mooi beeld wat ons, as Christene, in ons daaglikse handel en wandel moet onthou. In Ou Testamentiese tye het mense allerhande offers en ook reukoffers vir God gebring. Jesus was die volmaakte offer en na sy kruisdood hoef ons nie meer fisiese offers te bring nie. Ons optrede kan egter soos 'n reukoffer vir God wees.

Jy kan elke dag kies of jy 'n welriekende roos of 'n slikdam wil wees. Mense wat 'n aangename geur versprei, sal vol vreugde wees, ook in moeilike omstandighede. Ander mense sal Jesus se liefde in hulle teenwoordigheid aanvoel. Deur hulle woorde en dade sal hulle ander mense positief beïnvloed.

Ek is 'n slikdam as ek met die verkeerde voet uit die bed opstaan en vir die res van die dag buierig is. As ek vergeet om dankie te sê en moeilik is met kassiere by kasregisters, versprei ek nie 'n lieflike geur nie. Ek is 'n slikdam as ek kwaad vir iemand is, daardie woede koester en nie wil vergewe nie. As ek selfsugtig is en altyd my eie behoeftes eerste stel, is ek nie 'n lekkerruik roos nie.

As 'n mens lank in iemand se teenwoordigheid vertoef, vryf daardie persoon op jou af. Hoe langer jy in Jesus se teenwoordigheid is, hoe meer word jy soos Hy en hoe aangenamer is die geur wat jy versprei. Mag ander gelowiges en ongelowiges hierdie lente 'n rukkie stilstaan as hulle verby jou stap en hulle dan verbeel dat hulle die lieflike geur van jasmyn of rose ruik. Mag mense in jou teenwoordigheid 'n bietjie van God se heerlikheid ervaar!


bottom of page