Die Kind is Heer
top of page

Die Kind is Heer


Die Gees het gesorg dat Jesus veilig aanland hier op moederaarde. Maar dit was ‘n totaal andersoortige besoek. Jesus moes eers jare lank leer om mens te wees. Daarom dat Hy as ‘n pap babatjie gearriveer het. Maar tog was Hy nooit net “liewe Jesus” nie. Nee, van die eerste oomblikke af het ander mense geweet Hy is baie spesiaal. Die herders het oor Jesus gejubel en God geloof nadat hulle Hom in die Betelehem-krip gaan besoek het (Lukas 2:20). Simeon het op sy beurt God kliphard geprys toe hy die kindjie Jesus later in die tempel in sy arms geneem het en van Hom praat as die Verlosser van die mensdom (Lukas 2:30). Op haar beurt het Anna ook vir God geloof toe sy vir Jesus sien en vir almal in Jerusalem van Hom as die Verlosser begin vertel (Lukas 2:38).

Dis net die Heilige Gees wat jou oë kan oopmaak om Jesus se ware identiteit raak te sien. Anders bly Hy maar net vir jou een of ander goeie mens. Of selfs net ‘n ‘liewe Jesus’ figuur. Maar wanneer jy naby Jesus te staan kom, daar langs Simeon en Anna, dan gaan jou oë oop. Dan sien jy skielik die Verlosser van die hele wêreld. En dan weet jy dis net aan die Gees se werk te danke dat jy dit agtergekom het. Loof sy Naam!

Gebed

Dankie Heilige Gees dat U my oë vir Jesus oopgemaak het. Amen


bottom of page