top of page
Elmarie van der Westhuizen

Is ek dalk ‘n futlose volgeling van Jesus?


“Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie." Kolossense 3:23

Baie van ons dien God op een of ander manier in die kerk of gemeenskap. Of dit nou in die kerk is waar ek nuwelinge verwelkom, die aankondigings uitdeel, Sondagskool onderrig, voorbidding doen, iemand van Jesus vertel, of dalk etes vir my buurvrou berei, in sopkombuise werk ... die lys is eindeloos.

Tog kan ons te midde van hierdie dienswerk ons fokus/passie verloor vir dit waarmee ons besig is of vir die bediening waarin ons is. Elia het nadat hy die Baälprofete doodgemaak het op berg Karmel sy fut verloor. Hy het moeg en uitgeput die wildernis ingevlug nadat Isebel hom met die dood gedreig het, onder ’n bos gaan lê en gewens om dood te gaan. Dis hier waar God hom optel en versterk met brood sodat hy 40 dae verder na die berg Horeb kon stap waar God op hom wag. Daar in Sy liefdevolle teenwoordigheid word Elia so versterk dat hy sy roeping en opdrag kon hervat.

Wanneer ek in ‘n soortgelyke situasie is kan ek ook in die versoeking val om met my negatiewe houding heeltyd te kla en dan moed op te gee. Kan ek ook my fut verloor soos Elia na sy onderonsie met Isebel en die Baälprofete. Ek het miskien nie dieselfde roeping as Elia nie, maar in die kleinste werkie wat God gee, is my gesindheid vir Hom belangriker as wat ek vir Hom doen of bereik.

Ek het byvoorbeeld onlangs ingestem om ‘n buurvrou se katte op te pas en halfpad deur die proses agtergekom dat dit meer is as waarop ek gereken het. Die guns het heelwat meer gevra as wat ek voorsien het en dit was nodig om in my stiltetyd weer te gaan hoor waarom ek in die eerste plek hiervoor ingestem het. Ek moes my perspektief, fokus en houding weer her-kalibreer op Jesus as voorbeeld. Daar het Hy my daaraan herinner dat my gevoelens nie die dryfveer vir my optrede kan wees nie, dat alles wat ek doen (selfs katte oppas) van harte moet doen vir Hom en nie vir mense nie.


bottom of page