Sion is die plek om te wees
top of page

Sion is die plek om te wees


Sion word in die Ou Testament dikwels sinoniem met God se redding gebruik. Sion, die tempelberg - dis daar waar God se genade in oorvloed bruis. Daarom dat die Here deur sy profeet Joël vir ons almal sê dat Hy sy genade vanaf Sion sal laat vloei. Die Gees sal vandaar af oor die nasies stroom en wêreldwyd nuwe hoop en nuwe lewe bring.

Later, toe die Gees op Pinksterdag uitgestort is, het dit inderdaad ook in Jerusalem gebeur. Vandaar het genadestrome die ganse wêreld vol begin loop. Nou ja, natuurlik hoef jy en ek nie fisies na Jerusalem toe te gaan om die Gees se krag daar te loop soek nie. Hy is nou hier by elkeen van ons. Sion is nou op elke plek waar die Heilige Gees aan die werk is en nuwe lewe uitdeel.

Sion gebeur ook vandag in jou lewe. Moenie blind wees vir die werk van die Gees in en rondom jou nie. Sien opnuut weer raak hoedat Hy jou gered het toe jy na God om genade gesmeek het. Sien ook hoe Hy jou lewe oorstroom en jou verander in een van sy aardse spreekbuise. Wees gehoorsaam. Laat jouself meesleur deur sy vloedgolf van nuwe water. Gaan wees ‘n lewende verskil in sy Naam. Gaan leef daardie verskil ook vandag uit!

Gebed

Heer, sleur my mee in u oorstromende werk hier op aarde. Amen


bottom of page